’n Beroep is deur Agri Oos-Kaap op die Regering gedoen om onmiddellik enige verdere aankope van produktiewe landbougrond te keer. Dit moet gedoen word om voorbereidings vir ’n nuwe stel inisiatiewe te tref wat op die produktiewe landbou-ontwikkeling en die skepping van heeltydse werkgeleenthede gemik is.
Die vereniging sê in ’n verklaring dat die regeringsbeleid eerder op die volhoubare benutting en finansiering van sy bestaande landbougrond in die Oos-Kaap moet fokus.
95% misluk
Volgens die verklaring het 3 000 (oftewel 95%) van die projekte misluk wat ingevolge die staat se skema vir die herverdeling van landbougrond (LRAD) oorgedra is.
“Daar is geen aanduiding dat ondersteuning vir diegene wat reeds ingevolge die skema grond gekry het, gemonitor word nie. Al wat nou gedoen word, is om nuwe aansoeke te verwerk sodat bykomende geld ingevolge die herkapitalisasieprogram beskikbaar gestel kan word. Ook niks het nog gekom van die beloofde oudit om vas te stel hoeveel grond reeds aan swart mense oorgedra is nie.”
In die verklaring word daarop gewys dat die landbou-omgewing in die provinsie bestaan uit kommersiële boere, diegene in townships wat saam op uitspannings boer wat deur die munisipaliteite besit word, en meer as ’n miljoen bestaansboere in die voormalige tuislande wat op kommunale grond boer.
Beleidsraamwerk benodig
Daar behoort op die eie soortige behoeftes van ál drie die sektore gelet te word wanneer ’n beleidsraamwerk opgestel word wat volhoubare benutting van die landbougrond sal verseker.
Daar word ook onder meer aan - gevoer dat die koop van landbougrond deur die staat tot gevolg het dat die grondwaardes ver bo die produktiewe waarde daarvan gestyg het.
“Dit sal dom wees om met ingryping ingevolge die PLAS-skema voort te gaan voor nuwe modelle vir grondhervorming wat met vertroue in die prak tyk toegepas kan word, nie ontwikkel is nie,” lui die verklaring.”
13 September 2011