
Só sê Agri SA in ’n skrywe aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, waarin die organisasie haar hulp vra om die kwessie aan te pak.
Volgens mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het die vier lande, wat ook lede is van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu), eensydig besluit om hul grense vir sekere landbouprodukte vanaf Suid-Afrika, die vyfde lidland van Sadu, te sluit.
Namibië het onlangs aangekondig sy grense is vir eers gesluit vir beet, kool en wortels.
“Onlangs het verskeie van ons kommoditeitsgroepe ons genader vir hulp toe hulle met skok besef van hul produkte word by grense geblokkeer, veral na Botswana en Namibië.”
Van der Rheede sê dié optrede is verwarrend gegewe ’n doeane-unie soos Sadu wat van nature net ’n gemeenskaplike, eksterne handelsgrens het, terwyl die vry vloei van goedere binne die lede plaasvind.
Die Sadu-ooreenkoms sorg vir ’n enkele tariefstruktuur vir lidlande. Geen doeanebelasting word tussen die lande gehef nie.
“Hierdie lande se eensydige optrede is teenstrydig met die Sadu-ooreenkoms, die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se algemene ooreenkoms oor tariewe en handel, asook die WHO se ooreenkoms oor die landbou.”
Ongegronde redes
Agri SA sê die lande regverdig hul optrede deur onder meer aan te voer dit is ter wille van die beskerming van hul plaaslike produksie. “Sekere dele van die Sadu-ooreenkoms word dan gebruik om die stappe te regverdig.
“Agri SA besef daar heers al etlike jare frustrasie oor hierdie eensydige blokkering van landbouprodukte deur van ons buurlande en in baie gevalle word dit sonder enige waarskuwing ingestel.”
Volgens hom is veral Botswana en Namibië geneig om hul grense vir groente vanaf Suid-Afrika te sluit. “Maar dié lande is ewe tevrede om dieselfde produkte na Suid-Afrika – teen uitbuitende pryse – uit te voer.”
Dié prysvasstelling word volgens hom moontlik gemaak deur die verskille in lone wat betaal word. Suid-Afrika betaal aansienlik hoër lone aan mense in die landbousektor as Namibië en Botswana.
“Een voorbeeld hiervan is die groentebedryf: Botswana se loon is 3,8 pula (R5,04) per uur en Namibië s’n R12,23 per uur, gegrond op huidige lone aangesien geen minimum loon geld nie. In Suid-Afrika is die minimum loon in die groentebedryf R21,96 per uur.”
Geen optrede teen buurlande
Volgens hom is daar ook ’n tekort aan politieke wilskrag aan die kant van Suid-Afrika om druk te plaas op die lande om aan die Sadu-ooreenkoms te voldoen.
“Ons eerste keuse sal wees dat die lande by die ooreenkoms hou. As dit nie gebeur nie, wil ons sien dat Suid-Afrika terugkap en ons grense vir groente vanaf die lande sluit.
“Die saak word onuithoudbaar vir van die kommoditeitsgroepe en ons versoek dringend u aandag in verband hiermee,” luidens die brief aan Didiza.
Werksgeleenthede, inkomste op die spel
“Werksgeleenthede en inkomste is op die spel weens hierdie ongeregverdigde optrede wat in stryd is met die Suider-Afrikaanse Doeaneunie-ooreenkoms.”
Die verbod sluit tans onder meer tamaties, aartappels, beet, kool en gekleurde soetrissies in.
“Die optrede deur Botswana en Namibië is veral volgens ons ekstreem omdat dit nie spruit uit enige oortreding deur Suid-Afrikaanse boere nie. Hierdie lande beskerm hul eie plaaslike produksie én gaan voort om hul produkte na Suid-Afrika uit te voer.”
Volgens hom is die optrede van die lande nie korttermyn-maatreël nie.
“Die regering van Botswana beoog om die verbod oor twee jaar te hersien, en het reeds aangedui dat hierdie hersiening waarskynlik die lys van beskermde produkte sal uitbrei en nie verminder nie. Agri SA is ook bewus van beweerde pogings om Suid-Afrikaanse boere aan te moedig om hul bedrywighede na hierdie buurlande te verskuif, en as hierdie verbod ’n voorloper van die agenda is, moet Suid-Afrika optree om plaaslike bedrywighede en werksgeleenthede te beskerm.”
Dís wat Agri SA van regering verwag:
- Die regering moet wederkerige maatreëls in werking te stel.
- Die regering moet verdere stappe doen wat nodig is om plaaslike boere te beskerm, soos die moontlike opskorting van betalings aan hierdie lande uit die gemeenskaplike inkomstepoel (die fonds wat bestaan uit alle doeane, aksyns en bykomende belastings wat in die gemeenskaplike doeane-gebied ingesamel word) totdat die grense heropen word vir Suid-Afrikaanse kommoditeite.
- Die departement moet dringend met die landbouhandelsforum vergader.