
Agri SA sê werkers wat klagtes het oor onwettige aftrekkings vir huurgeld, water of elektrisiteit van hul salarisse, dit onder die aandag van die owerhede moet bring.
Cosatu het Donderdag in ’n verklaring beweer sommige boere trek dié kostes van salarisse af om die minimum loon teen te werk en dat dít bevestig dat die meeste boere steeds soos slawe-eienaars optree. Die organsisasie het ook ’n beroep op die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gemaak om inspeksies op plase op te skerp om seker te maak boere kom sektorale vasstellings na.
Agri SA het in reaksie daarop gesê veralgemenings oor boere se behandeling van hul werkers die verhouding tussen boer en werker vertroebel.
“Indien daar werklike oortredings plaasvind, kan dit onder die aandag van die Departement van Arbeid gebring word.” Werkers kan ook in verbinding tree met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) as hulle klagtes het.
“Geen werker hoef onbillike behandeling te verduur nie. Daar is meganismes om dit te hanteer. Selfs sogenoemde slawerny hoef nie verduur te word nie. Plaaswerkers, soos enige ander werkers, kan bedank en by ’n ander werkgewer gaan werk,” het me. Elize van der Westhuizen, senior bestuurder: arbeidsverhoudinge by Agri SA, aan Landbou.com gesê.
Wetgewing
Sektorale vasstelling 13 bepaal dat ’n werkgewer ’n bedrag van die werker se salaris mag verhaal vir behuising, solank die bedrag nie meer as 10% van die werker se loon is nie én mits die behuising aan voorgeskrewe standaarde voldoen.
“Aftrekkings is toelaatbaar binne die riglyne van die sektorale vasstelling 13. Enige werker, waar hy ookal bly, betaal vir verblyf en dienste.
“Ongelukkig word daar in baie gevalle van ’n boer verwag om alles verniet te verskaf, dus moet die boer die koste dra sonder enige hulp of subsidies. ’n Boerdery is ’n besigheid en behoort nie verantwoordelik te wees vir die subsidiëring van koste nie – dis ’n regeringsfunksie.”
Van der Westhuizen het gesê gevalle wat buite die wet val, moet aan die owerhede gerapporteer word sodat ’n spoedige oplossing gevind kan word.