
Dit wil voorkom of daar in talle opsigte meer eenstemmigheid tussen Agri SA en Cosatu kan wees as tussen Agri SA en die Regering, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Sy organisasie het verlede week ’n geskiedkundige gesprek met dié vakbond gevoer. Mnr. Moeletsi Mbeki, politieke ontleder en ekonoom, het as bemiddelaar opgetree om die ontmoeting in Johannesburg te reël. Möller sê Cosatu verteenwoordig werknemers en wil byvoorbeeld bestaande werkgeleenthede beskerm.
“Ons in die landbou wil werk skep. Nie een van die twee partye wil sien dat plase onproduktief raak weens onoordeelkundige grondhervorming nie. Dit is byvoorbeeld ook in albei organisasies se belang om vervalle besproeiingskemas weer aan die gang te kry.”
Gereelde vergaderings
Möller sê daar sal voortaan gereeld op amptenaarsvlak geskakel word. Hy verwag dat daar formeel een of twee keer per jaar vergader sal word. Mnr. Patrick Craven, nasionale woordvoerder van Cosatu, sê die vergadering het só goed verloop dat daar beslis opvolggesprekke sal wees.
Van Cosatu se kant is die vergadering bygewoon deur mnr. Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal, en me. Freda Oosthuysen, tesourier. Aan Agri SA se kant was dit onder andere Möller, dr. Theo de Jager, ondervoorsitter, mnre. Hans van der Merwe, Johan Pienaar, Dan Kriek, Anton Rabe en me. Elize van der Westhuizen.
Die groei en ontwikkeling van die landbou, grondbeleid, voedselsekerheid, subsidies, arbeidskwessies en plaasmoorde was van die onderwerpe wat bespreek is. Ander onderwerpe sluit in voedselpryse, nuwe toetreders tot die bedryf, onderwys en opleiding, plaasskole en die vervoer van kinders, gesondheidsdienste, logistiek, wetgewing, kleinhandel, grondeienaarskap en korrupsie.