
Hoewel die verrigtinge vóór pres. Jacob Zuma se Staatsrede geensins getuig van orde en dissipline nie, het Zuma visie getoon in van sy uitsprake oor landbousake, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Ten spyte van bedenkinge oor die sogenaamde radikale transformasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie, is daar aspekte wat die organisasie in 'n positiewe lig beskou.
"Pres. Zuma se voorgestelde beginsels met betrekking tot transformasie kan op 'n samewerkende basis tussen die Regering en die private sektor toegepas word.
"Die president het lofwaardige grondhervorminginisiatiewe deur boere, in samewerking met plaaswerkers, genoem en die belangrikheid van die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Grondwet in hierdie verband benadruk."
Volgens Möller het Agri SA ook dié raamwerke gebruik om voorstelle oor grondhervorming aan die Regering te maak. Zuma het ook 'n welkome ondersteuningsprogram vir swart kleinboere aangekondig met die doel van kommersialisering van tot 450 kwalifiserende boere.
Bedenkinge
Zuma se radikale transformasie bring egter ook onsekerheid in 'n slakkepas ekonomie wat stabiliteit in wetgewing tans broodnodig het.
"Onsekerheid heers oor die Onteieningswet wat teruggestuur is na die Parlement sowel as die beplande veranderings aan die Mededingingswet wat oor die konsentrasie van eienaarskap handel.
"Agri SA het, soos ander rolspelers, in die aanloop tot die Staatsrede die belangrikheid van beleidsekerheid uitgelig. Dit is 'n uitdaging maar is van kardinale belang as Suid-Afrika homself wil hervestig as 'n bestemming vir buitelandse beleggings."
Möller is skepties oor Zuma se stelling dat die regering R2,5 miljard se droogtehulp beskikbaar gestel het. Volgens Zuma is die fondse gebruik vir onder meer veevoer, waterinfrastruktuur, herstel van boorgate, sowel as finansiële ondersteuning vir boere wat sukkel om skuldvlakke te diens.
"Agri SA bevraagteken dié bedrag. Uit ons perspektief is bitter min ondersteuning in terme van die droogte gebied. Ons beplan om die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye te kontak oor hoe dié bedrag uitgewerk is."