Hef aan lê voor vir die proses rondom die E-tol-stelsel nadat ‘n interdik teen die inwerkingstelling daarvan toegestaan is, sê Agri SA.
Luidens ‘n berig in Volksblad kan geraamtes oor die stelsel, wat jare lank al in die kas skuil, moontlik later vanjaar blootgelê word.
Volgens mnr. Pieter Conradie, lid van die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (BTST), sê alle dokumentasie rakende besluite oor die stelsel en tariewe moet nou aan die BTST verskaf word. Dít volg op die beslissing van die Noord-Gautengse Hooggeregshof om die interdik, waarvoor BTST aansoek gedoen het, toe te staan. Die interdik bepaal dat die stelsel hersien moet word.
Alle rekords aangevra
Hy sê hulle het volledige rekords, wat alle kontrakte insluit, van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap en die Minister van Vervoer aangevra.
Volgens Conradie kan die proses twee tot drie maande duur, mits die Regering sy samewerking gee. ‘n Moontlike appèl aansoek deur die Regering sal wel nie die hersieningsproses beïnvloed nie. “Die hersiening sal voortgaan. Wat kan gebeur indien ’n appèl goedgekeur word, is dat die e-tolstelsel in werking tree, terwyl die hersieningsaansoek voortgaan.”
Landbou sal betrokke raak
Intussen sê mnr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, hulle sal “baie beslis” betrokke raak by die hersieningsproses sover dit insetkoste vir boere aangaan.
Hy sê dié landboubedrywe wat die meeste deur dié tolgelde geraak sal word, is ook die mees arbeidsintensiewe bedrywe – die vrugte- en groentebedrywe. “En hulle is die jaar reeds deur hoë loonverhogings en ander insetkoste getref.”
“Ons sal nie energie spaar om betrokke te raak as dit daaroor gaan om boere ‘n paar rand te spaar nie,” aldus De Jager.
Bron: Volksblad
1 Mei 2012