
Deelnemers van verskillende bedryfsvertakkinge neem vandeesweek deel aan Agri SA se program vir leierskapontwikkeling vir nuwe toetreders tot en mentors in die landbou.
“Om te boer is om ’n besigheid te bestuur. Geen boer kan suksesvol wees as hy nie ook die hulpbronne in die besigheid suksesvol kan bestuur nie,” het mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê. "Die doel van die opleiding is om deelnemers aan die program toe te rus met vaardighede om landbou-ondernemings suksesvol te bedryf."
Aspekte soos entrepreneurskap in die landbousektor en die Suid-Afrikaanse omgewing, die verskil tussen ’n entrepreneur en 'n klein sake-eienaar asook die omgewing van klein-mikro-medium sake-eienaars word in die program hanteer. Verder word daar deurdringend aandag gegee aan die bestuur van finansiële en menslike hulpbronne. Uitdagings wat landbouers daagliks in die gesig staar soos bemarking van produkte, risiko-bestuur en opstel van sakeplanne kry ook aandag.