
Mnr. Gugile Nkwinti gebruik onverantwoordelike uitsprake oor restitusie sonder vergoeding om die aandag af te lei van die skandaal om grondhervorming wat onlangs rondom hom losgebars het, sê Agri SA.
Luidens ’n berig in die Sunday Times word Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, daarvan beskuldig dat hy R2 miljoen ontvang het om die aankoop en oorhandiging van ’n boerdery van 7 000 ha met ’n waarde van R97 miljoen aan ’n vriend van hom, wat in die ANC-hoofkantoor in Luthuli-huis gewerk het, moontlik te maak.
Onder die vriend en 'n vennoot se bestuur het die plaas buite Modimolle in Limpopo in onbruik verval, werkers se salarisse is nie betaal nie en 3 000 stuks vee is vir R18 miljoen verkoop. Die grond is uiteindelik deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming teruggevat.
Grondwet onder skoot
Agri SA het sterk gereageer teen Nkwinti se uitsprake tydens die debat oor die staatsrede dat ’n wet ontwikkel sal word wat restitusie sonder vergoeding moontlik sal maak. Só ’n wet sal beteken dat Artikel 25 van die Grondwet aangepas sal moet word.
“Die onteiening van grond sonder betaling is nog nooit deur die Regering op die agenda geplaas nie. Die beskerming wat deur die Grondwet gebied word, is van toepassing op alle burgers en is noodsaaklik vir nuwe grondeienaars en diegene wat in die landbou wil belê,” sê Agri SA in ’n verklaring.
Nkwinti se voorstel dat ’n pre-koloniale grondoudit aangepak moet word, word as ’n onhaalbare idee beskou.
“Die stadige vordering met die grondeisproses is juis weens die Regering se onvermoë om betroubare en akkurate inligting oor historiese grondeienaarskap te bekom. Dit sal veel beter gebruik van belastingbetalers se geld wees om grondeise van amper 20 jaar suksesvol te verwerk óf om die huidige grondoudit reg te ruk,” sê Agri SA.
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, het gewaarsku dat onteiening sonder vergoeding die landbou-ekonomie in duie sal laat stort en tot voedselonsekerheid sal lei. “Ons het sekerheid en ekonomiese groei in Suid-Afrika nodig. Daarmee kan ons werk skep.”