
“Die uiters onverantwoordelike en roekelose uitsprake van Julius Malema, leier van die EFF, soos in die media gerapporteer, dui op onvolwassenheid en 'n totale wanbegrip van die impak daarvan op die land en sy mense.
“Die uitsprake oor die terugneem van grond, selfs op 'n gewelddadige wyse, lei tot 'n verdere polarisasie tussen die mense van Suid-Afrika. Die aanhitsing van geweld teenoor 'n sekere groep van die samelewing, is verwerplik,” sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, in 'n nuusverklaring.
“Dié emosionele en ondeurdagte uitsprake hoort nie tuis in 'n samelewing waar onderlinge respek en verdraagsaamheid gerespekteer moet word as 'n vereiste vir nasiebou, stabiliteit en vooruitgang nie.”
'Opruiende wanvoorstellings'
Die opruiende wanvoorstellings kan geen regverdiging bied om regmatige eienaars van hul grond te ontneem nie. Dit is 'n uiterste konflikterende benadering, wat katastrofiese gevolge vir beleggingsvertroue, voedselsekerheid en werkskepping inhou.
Möller sê Suid-Afrika staan aan die vooraand van 'n hergradering van die land se beleggingstatus en die uitsprake voorspel niks goed, indien graderingsagentskappe dit in hulle beoordeling in ag sou neem nie.
Agri SA het reeds by 'n onlangse vergadering van die prioriteitskomitee oor landelike veiligheid, die kwessie oor betreding en onwettige besetting van grond, bespreek. 'n Beroep is op die polisie gedoen om die konsep-beleid oor die hantering daarvan deur die polisie, op plaaslike vlak, spoedig af te handel en te implementeer.
Haatspraak en aanhitsing
“Ons verwag ook van die Menseregtekommissie om die uitsprake van Malema vir haatspraak en die aanhitsing van geweld te ondersoek en hom tot verantwoording te roep”, sê Möller.
Hy sê dat dit katastrofies sou wees om dié tipes revolusionêre uitsprake as oplossing te bied, veral omdat dit op ongegronde en verkeerde aannames gebaseer is.
“Ons vertrou dat in die geledere van die Regering steeds genoegsame verbintenis is tot die beginsels van die grondwet en die handhawing van wet en orde, om moontlike misdadigheid wat verband hou met Malema se uitsprake, aan bande te lê.”