
Die media gons die afgelope paar weke met berigte van plaasaanvalle en –moorde. In die mees onlangse geval is ’n boer van Kuruman so erg aangerand dat hy nog nie sy verklaring aan die polisie kon gee nie.
’n Boer van Baltimore is verlede week langs sy vrou in sy bed doodgeskiet, en sy vrou is ernstig in die gesig en nek gewond.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê dit is onaanvaarbaar dat mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, nog nie die landelike beveiligingstrategie – wat verlede jaar bekend gestel is – vir volle toepassing vrygestel het nie.
“Die prioritisering van landelike misdaad en veediefstal deur die Regering – soos verwoord in die landelike beveiligingstrategie – is steeds nie voldoende om plaasmoorde en landelike misdaad en geweld doeltreffend te bekamp nie.”
Volgens die organisasie hang die suksesvolle toepassing van die strategie af van die toepassing van die reservistebeleid. “Sonder die spoedige inwerkingstelling en volledige toepassing van die strategie asook die reservistebeleid kan die leemte wat in landelike beveiliging bestaan, nie doeltreffend aandag kry nie,” sê Möller.
Skep die nodige hulpbronne
Agri SA versoek die minister om die nodige hulpbronne vir landelike veiligheid daar te stel, en om te sorg dat die strategie in veral voorranggebiede toegepas word. Verder sê die organisasie landelike misdaad bevorder nie die skepping van werksgeleenthede en die ekonomie in die platteland nie.
Möller sê me. Riah Phiyega, die nuwe nasionale polisiekommissaris, het ’n reuse-taak om ’n professionele polisiemag met verbeterde misdaadvoorkoming daar te stel. “Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op haar skouers en ons wens haar sterkte toe met ’n baie moeilike taak. Die landbougemeenskap sal haar ten volle ondersteun.”
Volgens Möller spreek die organisasie ook die hoop uit dat die beginsel vir presidensiële afslag van gevangenisstraf in die toekoms met groter omsigtigheid sal plaasvind, aangesien verskeie van die vrygestelde misdadigers reeds weer aangekeer is.