
Agri SA is keelvol vir al die verslae wat die wêreld ingestuur word en wat beweer dat Suid-Afrikaanse boere wreed is en net hul werksmense wil onderdruk, sê mnr. Johannes Möller, die voorsitter van Agri SA.
Hy het Donderdag (8 September 2011) op Agri Gauteng se jaarvergadering in Pretoria gesê die organisasie gaan moeite doen om die verslae te bevraagteken en te verseker dat die mense wat dit saamstel streng aangespreek word.
Möller sê dit is teen die agtergrond van dié bewerings interessant dat hulle navrae ontvang het van 22 ander lande wat Suid-Afrika se boere by hulle wil hê.
“En ons moedig dit aan. Ons moedig nie boere aan om die land bloot te verlaat en elders heen te gaan nie, maar wel om hul bedrywighede na ander lande uit te brei.”
Samewerking
Möller het gesê groter samewerking tussen kommersiële en opkomende boere is nodig vir ’n suksesvolle landbousektor. Hy sê die bedryf gaan toenemend moet kyk na ’n én-benadering pleks van ’n óf-benadering as die sektor suksesvol wil produseer.
Hy maak sy stelling teen die agtergrond dat Suid-Afrika tans minder as 40 000 kommersiële boere het, terwyl die land sowat een miljoen opkomende boere het.
“Ons moet kyk na die behoeftes van dié boere en hoe om hul produksie te verhoog sodat die twee afdelings saam tot ’n volhoubare bedryf en tot voedselsekerheid kan bydra.”
Wat stygende wêreldvoedselpryse betref, verwag Möller dat die internasionale druk oor dié neiging gaan toeneem. “Daar is internasionale druk oor die beheer van voedselpryse en ons moet daai druk begin verwag.”
Volgens Möller moet dié druk nie misgekyk word nie, want ná voedselpryse in 2008 deur hoë prysvlakke gebreek het, het dit net gestyg. “En dit gaan net hoër word,” vertel Möller.
8 September 2011