
"Ek het hierheen gekom om julle te oortuig om in te koop in die program van grondhervorming. Noudat ek gehoor het hoe ver julle beplanning al gevorder het, skaam ek my. Ek het niks om vir julle te sê nie."
Dit was mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, se reaksie nadat hy geluisgter het na die omvattende proses waarmee Agri SA reeds besig om met planne vir sinvolle grondhervorming vorendag te kom.
”Julle maak my dag,” het Nkwinti by Agri SA se kongres buite Pretoria gesê. “Hierdie is nie politieke praatjies nie, dit is eerlik. Daar is net een ding waaroor ek met julle kan baklei. Hoekom doen julle dit nou eers?”
Hy het verwys na voorbeelde uit Oos-Kaap vavn wolkwekers en pynappelboere, waar samewerking tussen kommersiële boere en ontwikkelende boere goeie vrugte afgewerp het. Die kommersiële skaapboere het hom oortuig om beter skeerlokale vir ontwikkelende boere te help finansier en dat dit die waarde van hul wol verhoog. Kommunale boere baat tot vandag ook nog by finansiering aan kommersiële pynappelboere in 2007.
Nkwinti het ook voorgestel dat Agri SA se taakspan en sy eie departementele taakspan wat moet help met die implementering van afdelings van die Nasionale Ontwikkelingsplan, saam ’n span moet vorm.
Die Agri SA-kongres het ’n mandaat gegee om voort te gaan met hervormingsplanne.