
Dit is onverstaanbaar hoe mnr. Fikile Mbalula, Minister van Polisie, kan swyg oor die onaanvaarbare en barbaarse moorde op boere en plaaswerkers.
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee, het in ’n verklaring reageer op Mbalula se begrotingsrede wat vandeesweek in die Parlement in Kaapstad gelewer is.
“Dit het gevoel asof die boerderygemeenskap se bydrae tot nasiebou en die ekonomie, asook werkskepping, nie vir die Minister en die regering belangrik is nie,” het Breytenbach gesê.
Landelike polisiëring
Volgens Breytenbach het Agri SA reeds die moontlikheid van ’n landelike polisiëringskomponent met die polisie bespreek. Breytenbach het dit betreur dat Mbalula nie die begrotingsrede as geleentheid gebruik het om die daarstelling van só ’n eenheid aan te kondig nie.
Tydens die parlementêre debat oor plaasmoorde wat vroeër vanjaar plaasgevind het, het dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, die gebreke van sektorpolisiëring uitgewys, veral die gebrek aan hulpbronne.
“In Upington is een voertuig en vier polisielede vir ’n gebied van 184 plase beskikbaar.”
Voertuie
In die lig hiervan, is Mbalula se aankondiging dat meer as 3000 nuwe polisievoertuie aangeskaf sal word, verwelkom.
“Voertuigtekorte het in die verlede misdaadbestryding en dienslewering gekortwiek en het ‘n rol gespeel in die beperking van die implementering van die Landelike Beveiligingstrategie. Agri SA is bemoedig deur hierdie aankondiging en glo dat dit dienslewering kan verbeter,” lui die verklaring.
Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, se versoek dat boere en plaaswerkers beskerm moet word, is ook deur Agri SA verwelkom. Zokwana het ’n pleidooi aan politici gelewer om politiekery opsy te sit en saam te werk om ’n sukses van die Suid-Afrikaanse landbou te maak.