Swak dienslewering deur die Polisie moenie net gekritiseer word nie, maar aangemeld word sodat stappe gedoen kan word, sê Agri SA.
Mnr. André Botha, voorsitter van die organisasie se veiligheidskomitee, sê: “Dit is verskriklik belangrik dat die gemeenskap swak polisiëring moet aanmeld en op die tafel plaas, want anders gaan niks gebeur of verander nie.”
Hy het gereageer op ’n berig in Beeld waarvolgens ’n navorser 1 116 polisiekantore in die land gekontak het en by sowat 35% geen antwoord kon kry nie.
Mnr. Gareth van Onselen, politieke navorser, het die studie gemaak. Hy sê 7,7% of 85 van die polisiekantore se nommers was ook verkeerd gelys op die webwerf van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Lui 15 keer
Volgens Van Onselen is dit nie net in afgeleë dele waar die polisie se telefone net gelui het nie. Hy het self die studie, op eie koste, onderneem en kon nie antwoord kry by die kantore van Vanderbijlpark, Sandton, Sunnyside, Silverton en Midrand nie. Elke telefoon wat as nie-geantwoord gelys is, moes ten minste 15 luie gee sonder dat dit opgetel is.
Eersterust, Eldoradopark en Mabopane was van die groter polisiekantore wie se nommers verkeerd gelys was. Al die oproepe is op of die 4de of 21ste Mei 2012 tussen 11:30 en 20:45 gemaak. Die meeste van die oproepe is tussen 12:00 en 17:00 gemaak.
’n Volledige verslag oor al die polisiekantore se vertonings is op www.inside-politics.org gepubliseer.
Punt van die ysberg
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, sê na hul mening is die feit dat baie polisiekantore se telefone nie geantwoord word nie, slegs die punt van die ysberg van die probleme by polisiekantore. Hy sê in die Cullinan-omgewing gebeur dit gereeld dat die polisie nie ná sewe-uur saans die telefoon antwoord nie.
“En dit gebeur gereeld dat as ’n konstabel antwoord, die persoon vir jou sê daar is nie ’n voertuig beskikbaar om na die plaas te kom nie, of hulle weet nie hoe om by die plaas te kom nie of daar is nie brandstof om na die plaas te ry nie,” vertel Meintjes.
“ ’n Gebrek aan opleiding, kapasiteit en logistiek by polisiekantore veroorsaak groot frustasies en onveilige toestande vir verskeie landelike gemeenskappe,” sê Meintjes. “As iemand sy mede-gemeenskapslede kontak omdat hy ’n krisis het, moet die gemeenskap optree – ons kan nie vir die polisie wag nie – want soms kom hulle tot vier uur later eers daar aan.”
Bron: Beeld
28 Mei 2012