
Rolspelers in die landbou het ’n onderneming onderteken waarin hulle onderneem om hul samewerking te verleen om die verkiesingsproses in die landelike gebiede te help vergemaklik.
Agri SA het die Onafhandlike Verkiesingskommissie oor só ’n sektor-ooreenkoms genader.
"Die grootste moontlike deelname aan verkiesings is 'n voorvereiste vir die doeltreffende funksionering van 'n demokratiese samelewing. Dit geld ook vir landelike bewoners en die groot getal mense wat op plase woon en werk. Met inagneming van hul unieke omstandighede, het boere 'n spesiale verantwoordelikheid om hierdie gemeenskappe se deelname aan die verkiesing te ondersteun”, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Die onderneming wat onderteken is, maak voorsiening vir:
•Redelike toegang vir die Verkiesingskommissie en sy agente na boerdery-gebiede vir die doel van hul werk, in besonder die registrasie en onderrig van kiesers.
•Dat kiesers politieke byeenkomste by openbare geriewe kan bywoon vir werwingdoeleindes deur politieke partye.
•Redelike toegang vir die Verkiesingskommissie en sy agente om waar toepaslik, aangewese plekke as registrasie- en stemlokale te gebruik.
•Gee kiesers tyd af om te registreer en te stem.
•Verseker dat besoeke aan plase plaasvind in ooreenstemming met die protokol vir toegang tot plase.
"Die proses om kiesers te registreer sal tydens die komende naweek voortgesit word. Ek doen 'n beroep op boere om hul ondersteuning in dié verband te gee”, sê Möller.