
Die tema van vanjaar se Mandeladag, wat jaarliks op 18 Julie gevier word, is “Doen wat jy kan, waarmee jy kan, waar jy kan”. Agri SA en OneFarm Share het besluit om die middele tot hul beskikking in te span en vanjaar 40 miljoen etes aan 1,2 miljoen mense uit te deel.
OneFarm Share, gestig deur Standard Bank in vennootskap met HelloChoice, is gedurende die covid-19-pandemie tot stand gebring om voedselonsekerheid hok te slaan en oortollige vars produkte te bestuur. Dié platform verbind boere met surplus produkte met begunstigde organisasies via verspreidingsvennote soos FoodForward SA en SA Harvest. Sodoende bereik noodsaaklike voedsel kwesbare gemeenskappe.
Mnr. Grant Jacobs, uitvoerende hoof van HelloChoice, sê die platform se vennootskap met Agri SA toon die organisasies se gesamentlike verbintenis tot die bekamping van voedselonsekerheid in Suid-Afrika. Agri SA se rampverligtingstigting sal produkte voorsien wat op die platform versprei sal word.
Sedert OneFarm Share in November 2020 tot stand gebring is, is meer as 9 500 ton kos na meer as ’n miljoen mense op die platform versprei. Vanjaar word daar gemik om meer as 10 000 ton kos aan meer as 1,2 miljoen mense te voorsien.
Me. Andrea Campher, Agri SA se risiko-en-rampbestuurder, sê die tema vir vanjaar se Mandeladag is veral gepas vir die stryd teen voedselonsekerheid en klimaatsverandering. “Boere verstaan beter as enigiemand anders onder watter druk Suid-Afrikaanse verbruikers verkeer. Dit is waarom Agri SA hande met OneFarm Share geneem het om te verseker dat die kwesbaarste lede van die samelewing gedurende hierdie moeilike ekonomiese tye gehelp word.”