’n Appèl-aansoek gaan volg ná die bevinding van die Menseregtekommissie (MRK) oor ’n haatspraakklag wat verlede jaar teen mnr. Tokyo Sexwale, die Minister van Behuising, gelê is.
Luidens ’n verklaring sê Agri SA hy behou hom die reg voor om te appelleer oor die kommissie se bevinding oor Sexwale se verwysings na ‘‘very, very evil farmers’’ wat plaaswerkers van plase afjaag.
Volgens die kommissie is dié verwysing nie genoeg aanduiding dat Sexwale se uitsprake ‘‘ten doel gehad het om identifiseerbare of kommersiële boere in die algemeen te benadeel nie’’. Die kommissie bevind derhalwe dat Sexwale se opmerkings nie as haatspraak beskou kan word nie.
Gewaarsku
Die kommissie het in sy uitspraak wel gewaarsku teen die trant van uitsprake soos wat Sexwale gemaak het.
‘‘. . . dat alle Suid-Afrikaners en meer bepaald dié wat in openbare en besluitnemingsposte dien, hulle daarvan (moet) weerhou om uitsprake en verklarings te maak asook menings uit te spreek wat die potensiaal het om deur andere as weersinwekkend en aanvallend ervaar te word. Sulke ampsdraers moet eerder openbare platforms gebruik met kommunikasie wat die regte van andere respekteer en beskerm, die waardes van die Grondwet bevorder en bydra tot die bou van ’n nasie wat een is in sy diversiteit,’’ aldus die kommissie.
Kwetsende uitsprake
Volgens Agri SA beleef die kommersiële boeregemeenskap veralgemeende uitsprake, soos dié van minister Sexwale, beslis as kwetsend en hy wonder of dit nie die bedoeling het om die verhouding tussen werker en werkgewer op plaasvlak verdag te maak nie.
Feitlik alle vroeëre uitsprake oor arbeidspraktyke in die landbou kon nie feitelik bewys word nie, sê Agri SA. Dit skep wel ’n klimaat waarbinne landelike veiligheid en bewoningsreg benadeel word.
Sensitiwiteit
Agri SA sê dit is nie sy bedoeling om met Sexwale in ’n twis betrokke te raak nie. Hy doen wel ’n beroep op senior politici om die nodige sensitiwiteit aan die dag te lê wanneer hulle standpunte van dié aard wil oordra.
“Agri SA het die verantwoordelikheid om die geloofwaardigheid van hierdie tipe van uitspraak namens die boeregemeenskap, wat deur misdaad en moorddadiges geteister word, uit te daag en die implikasies daarvan uit te wys,” lui die verklaring.
25 Augustus 2011