
Openbare verhore oor Eskom se nuutste aansoek om die verhoging van kragpryse sal in Januarie volgende jaar plaasvind, en almal word aangemoedig om seker te maak hul saak word gestel.
“Dit gaan uiteindelik van die gehalte van die debat in dié verhore afhang of Eskom se aansoek toegestaan sal word, al dan nie,” aldus mnr. Dawie Maree, senior ekonoom by Agri SA.
Maree sê hulle is deurentyd met die kragvoorsiener in gesprek, en hulle sal beslis aan die openbare verhore deelneem. Eskom het verlede week ’n aansoek by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ingedien waarin hy vra om ’n verhoging van 16% per jaar vir die volgende vyf jaar.
Die tariewe
Luidens ’n berig in Beeld verteenwoordig dít ’n styging van sowat 110% vir die hele tydperk vir sakelui en verbruikers. Die verhogingstruktuur verskil vir bedrywe asook vir armer gemeenskappe, maar die hoogste tarief wat gevra sal word sal van 61c per kWh tot 128c per kWh opskiet.
Nersa sal sy besluit in Februarie aanstaande jaar aankondig, en die nuwe verhogings sal in April volgende jaar inskop vir diegene wat hul krag regstreeks by Eskom koop. Die land se 184 munisipaliteite wat krag by Eskom koop, sal die verhogings op 1 Julie 2013 aan verbruikers wat van hul krag afhanklik is, deurgee.
Landbou
Maree sê in sy aanbieding het Eskom dit duidelik gemaak dat die landbou se krag steeds gesubsidieer sal word, en die verhoging boere minimaal sal beïnvloed. “Dit sal sowat 50c per kWh uur wees.”
Intussen het Eskom vandag sy toekomsplanne vir kragvoorsiening aan onder meer die landbousektor bekend gemaak. Maree sê die kragvoorsiener wil teen 2040 hernubare krag in sy kragsamestelling inbring om die gebruik van steenkool aansienlik te verminder. Die meeste van dié hernubare krag, son- en windkrag, sal van die kusgebiede van die Oos-, Wes- en Noord-Kaap afkomstig wees.
Bron: Beeld