
Die ANC kan hom gereed maak dat Agri SA die grondwetlikheid sal toets van die voorstel dat die maksimum grondeienaarskap 12 000 hektaar of twee plase vir natuurlike én wetlike persone moet wees.
Die ANC het by sy lekgotla besluit dié maksimum grondplafon sal hom help in sy pogings om genoeg landbougrond vinniger beskikbaar te kry om te herverdeel.
Luidens berigte het mnr. Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, op ‘n nuuskonferensie na afloop van die lekgotla die aankondiging gemaak, asook dat grondeinaarskap deur deur buitelanders geheel en al verbied moet word. Buitelanders sal egter grond vir ‘n bepaalde tydperk kan huur. Hy het verder gesê dat die ANC ook die verpligte bekendmaking van die hoeveelheid grond wat besit word, voorstaan.
Mnr. Johannes Möller, voorsiter van Agri SA, het gesê hy betwyfel ten sterkste die grondwetlikheid van só ‘n plafon. “As die ANC nie die grondwetlikheid van sy besluit gaan toets nie, sal ons dit beslis doen.
“Gedurende die samesprekings van die nasionale verwysingsgroep vir die grondhervormingsproses (Nareg) is uitvoerig onderhandel oor grondplafonne en is tot die slotsom gekom dat dit nie grondwetlik of ekonomies verantwoordbaar is nie.”
By die Nareg-samesprekings is besluit dat die idee van grondplafonne heeltemal geskrap moet word. Van die redes wat aangevoer was, is byvoorbeeld dat die voorgestelde grondplafonne nie die variasie van grond in ag neem nie, soos sy landboupotensiaal en benutting nie.
“Langs die Oranjerivier is 12 000 hektaar vir tafeldruiwe groot, maar in die Boesmanland, net suid van die Oranjerivier, verskil die verbruikspatroon want die een is onder besproeiing en die ander is lae potensiaal weidingsgrond.” Net so verskil dié weidingsgrond van weiveld in die Oos-Vrystaat, byvoorbeeld.
“Jy kan nie fisies ‘n plafon plaas nie en om die landbou só te verdeel, sal voedselsekerheid nie kan waarborg nie,” het hy gesê.
Wat Möller verder bekommer is dat dié besluit teenstrydig met die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se voorstelle is. “Die NOP se planne gaan daaroor dat groter boere, ongeag kleur, moet kan uitbrei en vennote moet kan inneem.
“Nou word daar gesê hulle moet kleiner word. Dit lyk asof die ANC sterk daartoe neig om die NOP te skrap.”
Kom dié voorstel van mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, want dit strook nie met wat hy in die openbaar en by die Nareg-proses gesê het nie, meen Möller.
Indien dit nie sy voorstel is nie, wie het dit gedoen? vra Möller. Dalk is die ANC nie gemaklik daarmee dat hy dié land in Afrika is wat die hoogste vlak van voedselsekuriteit geniet, soos die Du Pont-verslag aandui nie, sê hy.
* Lees die berig oor die ANC se besluit oor 'n grondplafon.