
In sy Kersboodskap aan lesers van Landbouweekblad wens mnr. Johannes Möller, voorsitter, almal ’n geseënde Kersfees en voorspoed toe. “Boere leef met hul voete op die grond, maar bring ook baie tyd op hul knieë deur en met hul oë na bo gehef – dalk meer as in baie ander beroepe.Ons besef ons afhanklikheid van ons Skepper ook vir seën en genade met ons aardse bestaan.
“Met die geboorte van Christus het die Israeliete uitgesien na ’n leier wat hulle van die Romeinse juk kon verlos. Die Heerser wat aan hulle en alle volke gegee is, het die mensdom nie net van die kommer en kwellinge wat aardse oorheersers oor hulle bring, verlos nie, maar ook van dit wat skeiding bring tussen mense en die Hemelse Vader.”
Volgens Möller het die landbou vanjaar op talle terreine voorspoed beleef, “iets waarvoor ons dankbaar is”. Hy sê hoewel dit nie noodwendig met elke produsent die geval was nie, was dit ’n goeie landboujaar.
“Terwyl ons almal kommer het oor onsekerhede en probleme wat ons om ons raaksien, sal ons onerkentlik wees as ons nie ons voorspoed waardeer en die hand van ons hemelse Vader vertrou met dit wat Hy vir ons voorberei nie.
“Ek glo onwrikbaar dat die boere van Suid-Afrika ’n groot taak en verantwoordelikheid het om meer as voedsel- en veselprodusente te wees. Hulle moet uitmuntend bly presteer, maar hul taak as ligdraers en ontwikkelaars in hul gemeenskappe is net so groot.
“Laat ons op hierdie manier meedoen om die verlossende krag van Christus in ons huise en gemeenskappe met blydskap te vermenigvuldig en uit te dra,” sê Möller.