Agri SA het bekend gemaak dat hy amptelik die Lenteskou, wat voorheen die Pretoria-skou was en nou omskep word in ’n volwaardige landbouskou, sal steun.
Mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê hy glo daar is ’n verbintenis tussen landbouskoue en die geldelike welstand van die landbousektor.
“Agri SA stem volmondig saam met die Lenteskou se benadering om die kern belangegroepe in die landbou te betrek. Ons glo ook dat die skou se landboufokus by die algemene publiek meer belangstelling sal wek as die vorige formaat. Ons steun die skou ten volle en onderskryf die nuwe rigting wat ingeslaan word.”
Die skou word van 1 tot 6 September by die Tshwane Events-sentrum in die stad aangebied. ’n Wye verskeidenheid perdesport en kampioenskapskoue, soos die nasionale Dorper-, Boerbok- en Damara-kampioenskapskoue, is reeds bevestig.
Volgens die organiseerders is dit ’n aanduiding dat daar plek vir ’n groot landbouskou in die noordelike streke van die land is.
17 Mei 2012