
Dis tyd om radikalisme in Suid-Afrika uit te roei, vóór rassisme en geweldsmisdaad gemeenskappe nog verder van mekaar verwyder.
Agri SA het in ’n verklaring 'n beroep op Suid-Afrikaanse leiers gedoen om opruiende en ekstremistiese uitsprake te vermy, aangesien sulke uitsprake met geweld teen die boerderygemeenskap verbind word.
“Uitsprake van hierdie aard gaan gewoonlik met emosie gepaard wat lei tot die vorming van verkeerde persepsies wat rassistiese optrede kan bevorder,” lui die verklaring.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, het ook na onlangse voorvalle van rassisme verwys en gewaarsku dat rassisme gemeenskappe van mekaar verwyder.
“Ons land en sy mense het 'n samelewing nodig waar hulle reg op lewe gerespekteer en almal ewe belangrik geag word.
“Ek doen vandag 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om geweldsmisdaad en rassisme in alle vorme te veroordeel en in gemeenskapsverband na mekaar uit te reik en van die land 'n beter plek te maak waar almal in vrede en verdraagsaamheid kan saamleef.”
Opruiende uitsprake
Die verklaring het ook verwys na opruiende uitsprake oor grondbesetting en die trauma wat slagoffers van plaasaanvalle ervaar.
“Hierdie optredes het nie plek in 'n demokratiese land, waar menseregte 'n hoë prioriteit behoort te geniet. Leiers in die samelewing het 'n verantwoordelikheid om saam te staan en 'n klimaat van verdraagsaamheid te skep en geweld in al sy vorme te veroordeel.”
Möller het mnr. Fikile Mbalula, Minister van Polisie, se swye oor moorde en aanrandings van boere in twyfel getrek.
“Dit is reg dat die Minister van Polisie vorme van radikalisme veroordeel, maar ons vind dit vreemd dat hy nie die wreedaardige moorde en aanrandings op lede van die boeregemeenskap veroordeel nie.”