
Agri SA vertrou dat die werksverhouding tussen die ministerie van Landbou, Bosbou en Visserye en Agri SA, wat met verloop van tyd merkbaar verbeter het, onder leiding van mnr. Senzeni Zokwana voortgesit sal word, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van die nasionale landbou-organisasie.
Möller het Zokwana en Adjunkminister Bheki Cele gelukgewens met hulle onderskeie aanstellings. “Dit is ’n werklikheid dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye grootliks op tegniese aangeleenthede fokus waarmee die nuwe politieke ampsbekleërs moontlik nie ten volle vertroud is nie. Agri SA is bereid en beskikbaar om ondersteuning in dié verband te verleen”, sê Möller.
Landelike ontwikkeling
Hy het ook gewys op die noodsaak vir goeie interaksie met ander ministeries. “Vir ooglopende redes is aspekte soos landelike ontwikkeling, grondhervorming, water en handelsaangeleenthede ook vir die landbousektor van besondere belang. Die skep van ’n ministerie vir Water en Sanitasie is van besondere belang, nie slegs vir die landbousektor nie, maar vir Suid-Afrika as ‘n geheel,” sê Möller.
* Mnre. Dan Kriek, voorsitter van Vrystaat Landbou, en Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van die organisasie, is van mening dat die nuwe leiers die kans gegun moet word om hulle staal in hulle nuwe ampte te wys. “Ons spreek die vertroue uit dat hulle ’n pad saam met die georganiseerde landbou sal stap om die dinamiek in die landbou te verbeter en die uitdagings funksioneel en positief aan te spreek.”
Met Zokwana se agtergrond as president van die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM), hoop Kriek dat kwessies aangaande plaaswerkers, soos sosiaal-maatskaplike welstand en opleiding, aandag sal kry. “Hierdie is reeds fokuspunte vir die georganiseerde landbou, en sake waaraan talle landbouers op ’n daaglikse basis aandag skenk. Ons hoop dat die staat ook meer gunstig op dié kwessies sal fokus."