Vanjaar gaan ’n jaar vol geleenthede wees, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Hy meen om in die landbou suksesvol te wees, moet boere realisties wees oor wisselvallighede en bedreigings in die natuur- en markomgewing.
“Boere moet te alle tye (nie net in die nuwe jaar nie) die vermoë hê om té hoë risiko’s te vermy en geleenthede te benut. Die landbou, met sy bydraes tot voedselsekerheid, werkskepping en uitvoerverdienste, is ’n hoë voorrangsaak vir die Regering. Dit is ’n geleentheid wat aangegryp moet word om ’n vriendeliker landbou-omgewing tot stand te bring.”
Volgens hom kan boere die strukture van die georganiseerde landbou op alle regeringsvlakke en forums benut om te vertel wat hul behoeftes is, begrip te kweek en saam te werk om oplossings te vind en toe te pas. “Met die regte gesindheid en aanslag gaan deure oop en is samewerking moontlik,” het hy gesê.
Volgens hom kan geen boer gerus wees oor sy boerdery indien hy hom net bepaal by wat tussen sy plaas se grensdrade gebeur nie.
“Die suksesvolle boer sal by sy boerevereniging en bedryfsorganisasies moet inskakel om só sy stem te laat hoor en gewig te gee aan inisiatiewe wat die landbou se lewensvatbaarheid sal verbeter,” het hy gesê.
Die beskikbaarheid en pryse van boere se produksiemiddele, die arbeidsbedeling, die finansiering en belastingbedeling, toegang en koste tot elektrisiteit en water, die vervoernetwerk, telekommunikasie, siektebestryding, produkstandaarde, rampbestuur, veiligheidsoptrede en marktoegang is voorbeelde van aspekte wat slegs deur gesamentlike optrede beïnvloed kan word. Möller meen met Suid-Afrika as leiersmoondheid in Afrika en met streeksintegrasie ’n werklikheid, is uitbreidingsgeleenthede op die vasteland vir Suid-Afrikaanse boere en landbou-ondernemings in Afrika ’n aantreklike opsie.
Hy sê ’n lae rentekoers en ’n sterk rand maak dit vir boere moontlik om ingevoerde produkte en veral kapitaalgoedere op ’n voordeliger grondslag te bekom. “Die gehalte van Suid-Afrikaanse kommersiële boere is welbekend. Hoe anders as meer as 20 Afrikalande by Agri SA kom aanklop om elders met landbou-ontwikkeling behulpsaam te wees?”
Volgens hom kan die meeste boere “met reg” redeneer dat die staat sy sokkies moet optrek ten opsigte van dienslewering en infrastruktuur.
“Die beleidsomgewing word as onvriendelik beskou, veral ten opsigte van die onsekerheid met grondhervorming, die kostespiraal, voortslepende besoedelingsvraagstukke en politieke uitsprake oor die arbeidsbedeling op plase. Tog het Agri SA met president Jacob Zuma ooreenstemming bereik dat die landbou as ’n voorrangsaak vir die Regering meer gekoördineerde aandag moet kry.”
Hy maan boere om bedag te wees op pessimisme wat hulle tot neerslagtigheid kan stem. “Dit verduister visie en geleenthede word misgekyk. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg - ’n boer maak ’n plan. Geniet u beroep as landbouer en mag 2011 vir u baie vreugde, seën en voorspoed inhou.”
4 Januarie 2011