
Die ekonomie is nie ’n bordspeletjie waar jy aan die een kant ’n knoppie kan druk en aan die ander kant gaan ’n liggie aan nie. Dít een van mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, se standpunte oor die stakings wat tans in die mynbou- en vervoersektor voorkom en die hele ekonomie nadelig beïnvloed.
Tydens sy voorsittersrede by die organisasie se jaarkongres het hy opgemerk dat sterk optrede nodig is om die gewelddadige stakings stop te sit en beter beheer oor sulke stakings in die toekoms te hê. “Hierdie stakings kan uiteindelik daartoe lei dat ander mense, soos werkers in die landbou, hul werk verloor.”
Verskille
Möller meen die verskille oor waarheen die land op pad is, asook oor die struikelblokke wat oorkom moet word, kan gesamentlik tot “ ’n reuse-mislukking” op nasionale vlak lei. “Hoe groter die nasionale konsensus oor die visie wat nagejaag word asook die uitdagings wat in die proses oorbrug word, hoe groter is die kans dat ons gesamentlik ’n resultaat sal behaal wat die meeste van ons sal bevoordeel.”
Volgens Möller is die toepassing van groot aanpassings in die beste belang van die breë gemeenskap en ekonomie nie ’n maklike taak nie. Hy meen derhalwe moet ’n mens omsigtig wees met kritiek en besluite en optrede ondersteun wat kan lei tot ’n voordelige resultaat. “Net so is dit ’n uitdaging om wanneer dit nodig is, tog standpunt teen verkeerde neigings in te neem sonder om verhoudings te vertroebel.”
Onderneming
Ter afsluiting het Möller ’n onderneming van die landbou aan afgevaardigdes voorgehou. Hy sê ’n balans moet tussen verantwoordelikheid en regte gehandhaaf word.
Hy het die onderneming gegee dat landbouers die verantwoordelikheid sal aanvaar om landelike gebiede te ontwikkel, werk te skep, werkers en hul gesinne op te hef, voedsel te verskaf en natuurlike hulpbronne tot almal se voordeel te gebruik en op te pas. “Maar, ons sal ook ons Grondwetlike regte opeis en uitoefen.”
Hou Landbouweekblad dop vir meer oor Möller se toespraak.