
Die Agri Securitas-trustfonds het geld aan die boerderygemeenskappe van Umvoti in KwaZulu-Natal en Colesberg in die Oos-Kaap bewillig om hul veiligheid te verbeter.
Dié geld sal aangewend word om nommerplaatherkennigkameras en ’n radioherhaler in hulle onderskeie gebiede op te rig, luidens ’n mediaverklaring van die trustfonds. “Die stelsels sal aangewend word om toegang te moniteer en radiokommunikasie tussen lede te verbeter.”
“Te midde van verskeie uitdagings, waaronder die negatiewe impak van misdadigheid op hulle besighede, is boerderygemeenskappe afhanklik vir hulle voortbestaan van die landbou en vind hulle dit toenemend moeilik om te oorleef en te produseer. Dit bly moeilik om aan diegene wat moet sorg vir voldoende voedselproduksie as ’n primêre verantwoordelikheid te verduidelik dat hulle ook na hulle eie veiligheid moet omsien”, sê mnr. Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas-trustfonds.
“Deur te help om ’n veiliger produksie-omgewing te skep wil die trustfonds pro-aktief bydra om boerderygemeenskappe veiliger te hou en om voedselproduksie vir die land se groeiende bevolking in stand te hou,” voeg Grobler by.
Die fonds bedank ook sy strategiese vennote, naamlik; Nissan SA, Sanlam, CrisisOnCall en Sonfin vir hulle finansiële ondersteuning.