Agri Wes-Kaap het die inisiatief geneem om ander landbou-unies wat die primêre landbousektor verteenwoordig, te nooi na ‘n landbougespreksforum om sake van gemeenskaplike belang te bespreek.
“Die uitdagings in die landbousektor gaan nie net vanself opgelos word nie. Dis belangrik dat almal wat ‘n belang daarby het, om ‘n tafel sit en saam gesels oor moontlike oplossings”, sê mnr. Cornie Swart, voorsitter van Agri Wes-Kaap, in ‘n nuusverklaring.
Die vergadering is geskeduleer vir 7 Februarie in die Paarl en die unies wat genooi is, is:
AFASA (African Farmers Association of South Africa)
NAFU (National Agricultural Farmers’ Union)
USAAA ( United South African Agricultural Association).
* Die georganiseerde landbou se plan om ’n gesamentlike spreekbuis vir die landbousektor te bewerkstellig, vorder glo fluks. ’n Taakspan, onder leiding van dr. John Purchase van die LBK sal ‘n konsep-raamwerk later in Februarie afhandel. Dié raamwerk sal dien as grondslag waarop die spreekbuis sal funksioneer indien belanghebbendes in die landbou dit aanvaar.
2 Februarie 2012