
Die Mededingingskommissie het gister (Donderdag) bekend gemaak dat hy aanbeveel dat die Mededingingstribunaal die beoogde samesmelting goedkeur.
Die kommissie het in ’n verklaring gesê in sy ondersoek na die voorgestelde samesmelting het hy gevind dat daar geen mededingende oorvleueling in die bedrywighede van die samesmeltende partye is nie.
AgriGroupe en sy beherende entiteit, Joseph Investment Holdings, bied nie enige produkte of dienste wat as soortgelyk of verwisselbaar beskou kan word met wat Afgri in Suid-Afrika bied nie.
Die kommissie se standpunt is daarom dat dit onwaarskynlik is dat die voorgestelde samesmelting mededinging in die mark vir landboukommoditeite, berging, verhandeling en ander verwante dienste beduidend sal keer of verminder. Die kommissie het wel ’n diepte-ontleding van die saak gedoen nadat verskeie belanghebbendes hul kommer gelug het oor die gevolge van die voorgestelde transaksie op die kwessie van openbare belang.
Die Departemente van Ekonomiese Ontwikkeling, Handel en Nywerheid, Landelike Ontwikkeling, en Landbou, Bosbou en Visserye het, hoewel hulle nie gekant is teen die voorgestelde samesmelting nie, kommer gelug dat AgriGroupe ná die samesmelting bergingskoste vir graan in die KwaZulu-Natal-, Mpumalanga- en Gauteng-streke kan verhoog omdat hy die meerderheid van silo’s in hierdie provinsies sal besit.
Die partye het ook gesê AgriGroupe kan graan na Amerika, Kanada en ander lande uitvoer en dat dit die prys van graan of mielies in die land kan laat styg.
Kommer oor gevolge vir boere
Die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa), die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) en die National African Farmers' Union (Nafu) is bekommerd oor die moontlike gevolge wat die voorgestelde samesmelting op boere, veral swart boere, kan hê en die SAKP vrees ook werkverliese.
Die kommissie sê hy kon nie in sy beoordeling van die kwessies bewyse vind dat die voorgestelde transaksie ’n negatiewe invloed sal hê nie en dat dit onder meer eintlik juis moontlik is dat die samesmelting op lang termyn werkgeleenthede kan skep.
Weens spaarkapasiteit in Afgri se silo’s sou dit byvoorbeeld ook nie kommersieel sin maak om enige kategorie van boere van die gebruik daarvan uit te sluit nie.