Groot belangstelling bestaan rondom ‘n organisasie vir Suid-Afrikaanse boere in Mosambiek, sê Agri SA. Luidens ‘n verklaring het ‘n loodskomitee vir AgriSAMoz Vrydag (14 Januarie 2011) ‘n vergadering in Maputo gehou om besluite oor die organisasie te neem.
Tydens die vergadering is besluit om die naam AgriSAMoz te gebruik, waarvoor ‘n konsepgrondwet opgestel moet word en ‘n befondsingsmodel ontwikkel moet word.
Die organisasie sal na verwagting op 26 Mei 2011 amptelik in die geselskap van verskeie hooggeplaaste politici en amptenare van albei regerings gestig word. Intussen onderneem die loodskomitee om reeds die besonderhede van belangstellende boere aan die owerhede van Mosambiek deur te gee.
Die geskiedenis
Die organisasie het in November verlede jaar by ‘n landboubeleggingskonferensie in Xai-Xai in Mosambiek, Suid-Afrikaanse boere wat in so ‘n organisasie belangstel versoek om hulle skriftelik te kontak.
Dít het wye belangstelling uitgelok van boere in Mosambiek maar ook Suid-Afrika. Meeste boere stel glo in bees- en bokboerdery, die produksie van suiker, vrugte, groente en graan asook besproeiingsboerdery belang.
Boere wat hulle reeds daar gevestig het, moes glo ‘n uitgebreide en vermoeiende proses deurmaak om grondgebruiksregte te vestig, hoewel grond in Mosambiek goedkoop is.
Hulle sou dus graag deel wou wees van ‘n organisasie wat in die verband hulp kan verleen. Die lys van belangstellendes sal die week aan die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Maputo en die Mosambiekse regering oorhandig word.
Intussen kan ander boere ‘n kort uiteensetting van hulle belangstellings aan me. Heléne Swanepoel by helene@agrisa.co.za stuur. Sy kan ook by 012 643 3400, geskakel word.
24 Januarie 2011