
Agt grondeise is verlede maand in die bosboubedryf in KwaZulu-Natal en Mpumalanga afgeteken, sê Mondi.
Altesame 19 grondeise, wat sowat 35 000 ha se grond insluit, is al deur Mondi, die staat en begunstigdes onderteken. Die ooreenkomste is bereik deur die raamwerk van ’n model om grond by diegemeenskappe te huur, wat deur Mondi en die staat ontwikkel is, te gebruik.
Agt van die eise is onlangs afgehandel toe sewe ooreenkomste in KwaZulu-Natal onderteken is, en een in Mpumalanga. Luidens ’n verklaring is die ooreenkomste met gemeenskappe in die Piet Retief, Kranskop, Vryheid en Howick aangegaan.
17 000 ha
Met die ooreenkomste sal 17 150 ha van Mondi se grond waarop plantasies staan, aan die agt grondeisers oorgedra word.
“Ons is baie in ons skik dat ’n ooreenkoms bereik kon word wat die nuwe eienaars bemagtig, terwyl die veselvoorraad aan ons onderneming gelewer sal word,” aldus mnr. Maurice Makhathini, Mondi Suid-Afrika se hoof van grond.
Hy sê die model wat gebruik word, is so suksesvol dat dit deur ander in die bosboubedryf gebruik kan word. Die model stel die begunstigdes in staat om ’n volhoubare inkomste uit die grond te maak, terwyl hulle ’n onderneming van hul eie op die been kan bring.
Ondersteuning
As ’n strategiese vennoot, sal Mondi deel vorm van opleiding en ondersteuning aan die gemeenskappe ná die oordrag van die grond. Dié vaardigheidsontwikkeling sal deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gefinansier word, terwyl Mondi administratiewe en tegniese kennis sal bydra.
Mnr. Jan Msibi, woordvoerder vir die agt gemeenskappe, sê: “Uiteindelik is ons voorvaders se grond terug in ons hande. Ons wil graag ons dank teenoor Mondi en die Regering uitspreek en almal betrokke verseker dat ons sal werk sodat die grond selfs nádat die huurtydperk verby is, so produktief sal wees soos vandag tot voordeel van geslagte wat kom.”