
“Tot waar moet belastingbetalers gedryf word voordat hulle ‘n duidelike streep trek en besluit dat genoeg nou genoeg is?” vra die TLU SA se voorsitter, mnr. Louis Meintjes.
Meintjes het gereageer op bespiegelinge dat rentekoerse binnekort verhoog kan word, dat Eskom weer vroeg in die nuwe jaar drastiese tariefverhogings in werking kan stel, maar bowenal van gerugte dat belastings verhoog gaan word.
“Adv. Richard Sizani, waarnemende voorsitter van die Staatsdienskommissie, het onthul dat staatsdepartemente op die rand van ineenstorting staan. Munisipaliteite kan nie meer dienste lewer nie, want die geld raak eenvoudig weg. Individuele elektrisiteitsverbruikers, waaronder landbouers 'n groot deel uitmaak, moet munisipaliteite met elektrisiteit subsidieer omdat dié met miljoene rande agterstallig is, en skotvry daarvan afkom.
“Steeds meer plaaslike owerhede kry gekwalifiseerde ouditverslae, en nou blyk dit dat, behalwe die Nkandla-debakel, die kantoor van die president ook nog miljoene rande te veel bestee het,” sê Meintjes.
“Hoe kan die staat dit selfs oorweeg om die belastingbetaler nóg meer te wil melk net sodat hy nog meer kan vermors, en sodat buitensporige salarisse van wanfunksionele amptenare betaal kan word?
“Suid-Afrika se belastingverdeling is reeds oneweredig. 'n Minderheid van die bevolking moet 'n hele nie-funksionele en dikwels korrupte burokrasie aan die gang hou. Hulle kan dit eenvoudig nie meer doen nie, en belastingbetalers gaan een of ander tyd vir hulleself die vraag afvra of hulle nog enigsins verdere belasting wil betaal?
" 'n Behoorlike en deursigtige ondersoek behoort gedoen te word oor wat die werklike oorsake vir die swak prestasie op al die vlakke in regering is. 'n Eerlike bevinding sal wees dat die prys van regsgtellende aksie nou te duur geraak het vir Suid-Afrika."