As planne en strategieë tot ekonomiese groei kon lei, sou Suid- Afrika waarskynlik een van die vinnigste groeiende lande ter wêreld gewees het.
Die probleem is egter dat die talle planne vir die land nie noodwendig op dreef kom nie, het mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Agri SA se bedryfskamer, op Stellenbosch gesê.
Ferreira het gesê daar is talle planne en strategieë op die tafel – soos GEAR, Asgisa, IPAP1 en IPAP2, die “New Growth Path” en nou ook die Nasionale Ontwikkelingsplan (Visie 2030).
Vir die landbou is daar die strategiese plan van 2002 en die meer onlangse geïntegreerde groei- en ontwikkelingsplan (IGDP). Maar soos uit die onlangse geskiedenis van die land sedert 1994 blyk, lê die probleem daarin dat dié planne selde in werking gestel word, het Ferreira gesê.
’n Mens sou graag wou sien dat die beplanningstadium verby is en dat alle energie nou aan die implementering daarvan gewy word. Hy sê die sentrale tema van al hierdie planne is om landelike ontwikkeling te bevorder sodat die landbou (naas die mynbou) as die hoeksteen sy plek kan inneem.
Basis
Die pilare waarop die jongste landbouplan gebaseer moet wees, behoort die gelyke deelname deur alle belanghebbendes, grondhervorming, ’n mededingende ekonomie en die volhoubare aanwending van hulpbronne in te sluit.
“Dit is verblydend dat die IGDP voorsiening maak vir behoorlike evaluering en ’n moniteringstelsel wat alle belanghebbendes en deelnemende staatsdepartemente insluit.
"Die Minister van Landbou het reeds aangedui dat sy gereeld met alle betrokkenes wil vergader. Pres. Jacob Zuma het ook twee jaar gelede aangedui dat hy wil kennis neem van belangrike besluite en moontlike oplossings in die landbou.”
Infrastruktuur, die landbou se vermoë om aan te pas by klimaatsverandering en handels- en tariefbeleid sal ook op die sakelys van die IGDP geplaas moet word, het Ferreira gesê.
29 Februarie 2012