’n Aksieforum (Delivery Forum) wat die totale landbousektor en staat, insluit is Vrydag (16 Maart 2012, in Pretoria gestig.
Me.Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het die georganiseerde landbou en arbeid, verskillende bedrywe, haar departement, politici, die ministerie, die Nasionale Bemarkingsraad, die Landbounavorsingsraad en al die landbou-LUR’e in een vertrek saamgehad om die forum te stig.
“Ons kan nie langer net praat nie, ons moet tasbare resultate begin sien,” sê die Minister. Sy sê haar departement “het nie ’n afkeur in of is nie allergies vir kritiek nie”, maar die enigste manier wat vertroue herstel gaan word, is om daadwerklik op kwessies te reageer.
Sy sê die forum sal oplossings soek vir kwessies waaroor dooiepunte tussen rolspelers ontstaan het. “Geen dooiepunt is onoplosbaar nie.”
Kontrakte
Die minister meen een manier om trae dienslewering in die sektor op te los, is die sluit van kontrakte. “Kontrakte sal ons bind tot uitkomste tot dit wat gelewer moet word. En as die departement nie lewer wat in die kontrak staan nie, sal die departement strafbaar wees.”
Volgens die minister sal die forum kwartaalliks vergader, en sal ’n kwartaallikse verslag beskikbaar wees waarin die prbleme uitgelig sal word.
Prioriteite
Joemat-Pettersson sê dit is baie belangrik dat die bedryf koördineer wat voorrangsake betref. “Elke afdeling of organisasie het tans sy eie lys voorrangsake, en so word werksaamhede nie gekoördineer nie.” Derhalwe sal die forum saam besluit oor projekte wat in ’n boekjaar moet plaasvind.
“Ons het van die beste doeners in dié forum nodig om die Regering te ondersteun. Gebrekkige kapasiteit kan nie meer gebruik word as ’n verskoning oor hoekom sekere doelstellings nie bereik word nie.”
“Weet asseblief dat ons nie hier byeengekom het om ons terrein te kom merk en beskerm nie, maar vir samewerking,” het die minister haar toespraak afgesluit.
16 Maart 2012