
’n Aktivistegroep is in die Karoo gevestig om die impak van die SKA-projek (Square Kilometer Array) op die landbou en breër landelike gemeenskap in die streek aan te spreek.
Mnr. Niel Coetzee, ’n skaapboer van die distrik Carnarvon, sê verskeie rolspelers span kragte saam om deur middel van die Verenigde Karoo-beskermingsgroep hul stem dik te maak oor vrese rondom grond en onteiening, sowel as die impak wat die SKA op kommunikasiestelsels sal hê.
Volgens mnr. Lorenzo Raynard, kommunikasiebestuurder van die SKA, sal slegs 118 000 ha, of 32 plase, deur die SKA gekoop word. Daar sal met boere onderhandel word om serwitute te registeeer vir die spiraalarms wat buite die projek se kern gevestig word. Die SKA het sy versekering gegee dat geen verdere grond, buiten die nodige serwitute, vir die projek geoormerk sal word nie.
Onteiening
Ondanks dié versekering vrees sommige boere steeds dat die projek verder uitgebrei sal word om op nog meer landbougrond te val. Die Wet op Astronomiese Geografiese Voordele maak die onteiening van ’n aansienlike deel van die Noord-Kaap vir dié projek wettig.
Coetzee sê hoewel die SKA sê dat onteiening van grond nie sal plaasvind nie, stel dit hulle nie gerus nie, aangesien dit steeds ’n wettige moontlikheid is. Van die grond in dié omgewing is tot ses geslagte in een familie, wat beteken dat boere waarskynlik nie sal wil verkoop indien die SKA kom klop nie.
“Dit is so goed jy onderhandel met ’n man om sy broek van sy lyf af te koop. Jy het ’n gelaaide rewolwer wat jy op die tafel neersit en jy sê vir hom ‘moenie bekommerd wees oor die rewolwer nie, ek gaan hom nie gebruik nie behalwe in die laaste instansie’. Nou wat is die laaste instansie? Wanneer die man vir jou sê hy wil nie sy broek verkoop nie.”
Coetzee sê die doel met die beskermingsgroep is om belanghebbendes ’n stem te gee, omdat die SKA telkens met individue of kleiner groepe onderhandel. "SKA wil nie met almal saam praat nie. Ons het besef ons moet teen hierdie Britse Leeus-rugbyspan speel en ons speel met ’n Carnarvon-spannetjie. Ons moet ’n Springbokspan bymekaar kry teen hulle."
Volgens Coetzee is ’n deel van die probleem die feit dat mense nie besef dat die projek hulle kan raak nie. “Minder plase beteken minder mense. Besighede op dorpe in die Karoo kan toemaak, kerke en skole sal ook krimp.”
Kommunikasie
Mnr. Dries le Roux, voorsitter van Agri Kareeberg, sê kommunikasie is ’n groot bron van kommer. Die SKA-projek het streng stilte-vereistes waarvoor radiokommunikasie-tegnologie beperk sal word. Dit sal ’n impak hê op onder meer die gebruik van selfone en die internet in dié gebied.
“SKA het gesê dat die tegnologie wat hulle van ons vat, vervang sal word met ’n produk wat hulle nie in hul bedrywighede steur nie,” sê Le Roux. Hy sê hulle is tot op hede nie tevrede met die alternatiewe wat die SKA bied nie.
“As dié spirale gevestig word, gaan radiostilte in groot dele hier heers, waar ons nie gaan kan kommunikeer nie. Dit is enige mens in Suid-Afrika se reg om toegang tot selfone en ’n internetkonneksie te hê. Jy kan nie meer boer sonder ’n internetkonneksie nie.”
“As hulle ons selfone en selfoonsein wegvat, moet hulle vir ons iets soortgelyk as alternatief bied,” sê Le Roux.