
Die vestiging van goeie en volhoubare verhoudings met senior staatsamptenare, wat beleid tot uitvoering moet bring, is belangriker as om met die politici te praat, glo mnr. Theo Venter, onafhanklike politieke ontleder.
Hy het in ’n paneelgesprek oor die belangrikheid van burgerlike en belange-organisasies in ’n moderne samelewing gesê politici het die kuns vervolmaak om jou goed te laat voel, terwyl daar groot twyfel bestaan of jou boodskap ooit verder na amptenare vir uitvoering oorgedra word. “Daar is natuurlik uitsonderings en daar is politici wat nouer saamwerk met hul departemente, soos in die geval van me. Thoko Didiza, maar oor ander is daar groot twyfel.
“In ’n stelsel soos Suid-Afrika waar een politieke party alles oorheers, kry ’n mens dat ander groepe binne die samelewing die rol van die opposisie begin vertolk, soos sake-organisasies en die media wat die regering tereg probeer wys en waarsku. Dit is gunstig dat groepe binne die samelewing die regte waaroor hulle beskik, korrek tot hulle voordeel wil aanwend.”
Dr. Theuns Eloff, akademikus en onafhanklike ontleder, het gesê ongelukkig maak die faksiegevegte binne die ANC selfs dat redelik bekwame ministers lamgelê word in die uitvoering van hul pligte. Albei van hulle glo in ’n ontwikkelende demokrasie soos Suid-Afrika speel belange-organisasies en die burgerlike samelewing ’n deurslaggewende rol speel.
Hy het gesê sonder belange- en burgerlike organisasies sal die staat se oorheersing absoluut wees. “Daar is ander organisasies in ’n land wat net soveel waarde as die staat het, en die een behoort nie ondergeskik aan die ander te wees nie. In ’n situasie waar een party oorheers, dink politici dat alles rondom hulle draai en dit is ’n gevaarlike pad om te stap.”
Hy het gesê volgens internasionale faktore waaraan ’n mislukte staat herken word, trek Suid-Afrika net onder 50%, wat beteken dit is nog nie ’n mislukte staat nie, maar wel ’n mislukkende een. Omstandighede soos hierdie veroorsaak dat die burgerlike samelewing ál meer na vore tree. “Stede sal sterk bly, maar plattelandse dorpe sal niks meer as arbeidskampongs word nie. Daar gaan nie meer sake-ondernemings wees wat werk skep nie.”
Eloff het gesê as dele van die staat misluk, kry ander instellings groter waarde. “Sekere staatsfunksies soos riolering, onderhoud van paaie en watervoorsiening sal volgehou moet word sonder ’n belastinggrondslag en ander instellings sal eenvoudig moet ingryp.” Hierdie instellings kan enige struktuur wees, van ’n skool tot ’n kultuur- of landbou-organisasie.
Eloff glo kenmerke van ’n goeie struktuur vir ’n instelling is dat dit funksioneel is en suksesvol werk, dat dit aanpasbaar by veranderende omstandighede is, dat daar so min burokrasie as moontlik moet wees en dat dit op verskeie owerheidsvlakke betrokke kan wees.
“Die leiers moet weet wat die behoeftes van hul lede is en daaraan kan voldoen. Lede moet waarde uit hul lidmaatksap kry. Die instellings moet aan hul lede hoop en perspektief bied, leiding verskaf en met ander organisasies kan saamwerk. Alle landbou-organisasies moet onderling kan saamwerk en koödineer waar nodig. Die tyd het gekom vir groter samewerking.”
Venter het ook verwys na die belangrikheid om dit vir lede aantreklik te maak om vrywillig deel van ’n organisasie te bly. “Hoe jy met hulle omgaan is van die grootste belang om hul deelname en bydrae te behou. Die lid kan vra: Wat doen jy vir my? Diensbare leierskap is een van die belangrikste faktore om te wys dat kwessies wat vir die lid belangrik is, aandag kry.”