
Só sê mnr. Marius van der Westhuizen, boer en lid van die Waboomrivier-besproeiingsraad in die Langkloof in die Oos-Kaap, na aanleiding van die voortslepende waterkrisis in dié provinsie.
Die department van water en sanitasie het onlangs in ’n verklaring gesê hy gaan nou alles in die stryd werp om die waterinfrastruktuur van die metro so gou moontlik te herstel en te verbeter.
Daar is die afgelope week 3 168 lekke aangemeld, wat meebring dat meer as 30% van die water net weens lekkende pype verlore gaan.
Dít gebeur midde-in die jare lange droogte wat die Oos-Kaap steeds genadeloos teister.
Foto’s doen die ronde op sosiale media van swaar reënbuie wat die afgelope week in Krakeel en die Langkloof neergesak het. Dit laat boere ’n sug van verligting gee om die eens leë damme stadig te sien vol word. Van der Westhuizen meen egter dit gaan nog baie meer reën – “eintlik ’n vloed” – kos om die gebied uit die moeilikheid te kry en om die Kougarivier weer sterk te laat loop. Die Langkloof is die opvangsgebied van die Kougadam, wat een van die watervoorsieningsbronne van Gqeberha is.
In ’n video wat ’n boer ná die onlangse reën van die Krakeelrivier geneem het, vloed die water na die Kougadam.
“Groot is die Heer. Prys hom! Net toe die water opraak, kry ons die reën. Dit reën aanmekaar. Ons het 130 mm tot 150 mm al gemeet. Dit reën mooi in die Langkloof vandag,” sê hy in die video.
Maar ook mnr. Skip van Jaarsveld, ’n sitrusboer in Kwaggaskloof buite die Patensie in die Gamtoosvallei, sê boere kort “ ’n groot klomp reën.”
“Al wat ons gaan red, is ’n vloed. Ons damme was sewe jaar laas 100% vol,” sê hy. “Vir die afgelope vier jaar kry ons net die helfte van ons kwota vir besproeiingstyd. En vir die afgelope twee jaar maak ons ons eie damme vol. Dit is nie volhoubaar nie.”
Die department erken daar is heelwat herstelwerk wat gedoen moet word sodat hy soveel water moontlik vanaf die oostelike dele van die metro na die droër, westelike dele kan pomp.
Dít wil hulle doen deur die Motherwell- en Standford Roads-pompstasie te verbeter.
Die pompstasies lewer tans 90 megaliter water per dag deur pype van 500 mm en 700 mm in deursnee. Planne sluit in om die Motherwell-stasie te verbeter om tot 120 megaliter per dag te pomp en die Standford Road-stasie se kapasiteit te verhoog tot 135 megaliter.
Volgens die department wil hy water vanaf Suid-Afrika se grootste dam, die Gariepdam, deur die Nooitgedacht-waterskema na die metro se westelike gebied herlei.
'Hoog tyd'
Me. Rienette Colesky, uitvoerende hoof van die Gamtoos-besproeiingsraad, sê die besluit deur die metro is egter nie deur hulself aangevuur nie, maar wel deur die druk wat mnr. Senzo Mchunu, minister van waterwese en sanitasie, eindelik op hulle plaas.
Die Gamtoos-besproeiingsraad oorsien die bestuur van die Kougadam se water aan die boere, asook die instandhouding van die kanale.
“Dis hoog tyd dat hulle iets aan die probleem doen. Ons bestuur die water reg en die boere bly binne hul beperking. Dit is iets wat die metro nooit kon regkry nie,” sê sy.
“Ons sien darem daar is beweging weens die druk wat op hulle geplaas word, maar ons hoop dit bly so.”
Van Jaarsveld sê dié situasie is iets wat die boere jare gelede al op raadsvergaderings geopper het, maar niks is oënskynlik daaraan gedoen nie.
“Ons nuwe waterjaar begin op 1 Julie,” sê hy. “Ons hoop vir meer reën om die damvlakke te verbeter, anders kry ons nie vol kwota nie. As ons kwota vir die jaar klaar is, word ons krane toegedraai . . .
“Al wat ons kan doen, is om te glo en te vertrou.”