Die Wes-Kaapse landboubesighede Overberg Agri en Moorreesburgse Koringboere (Edms.) Bpk. (MKB) het verlede maand in aparte transaksies ’n groot deel van die aandele wat hulle in die Pioneer Voedselgroep hou, verkoop en aandele en dividende ter waarde van miljoene rande aan aandeelhouers ontbondel.
Die koper in albei gevalle is die beleggingsbestuursmaatskappy Allan Gray, wat nou net meer as 6% van die aandele in Pioneer besit.
Mnr. Deon de Kock, voorsitter van Overberg Agri op Caledon, sê hulle het 8 388 583 aandele (meer as R500 miljoen) deur ‘n “dividend in spesie” aan hul aandeelhouers ontbondel, wat daarop neerkom dat hulle een Pioneer-aandeel ontvang vir elke aandeel wat hulle in Overberg Agri hou. Overberg Agri, wat voor die transaksie16 miljoen (8%) Pioneer-aandele besit het, het ook 2,5 miljoen aandele aan die beleggins- en bestuursmaatskappy Allan Gray verkoop.
De Kock sê die ontbondeling van die Pioneer-aandele was op aandrang van hul aandeelhouers, wat meen die Pioneer-aandele was ‘n bate wat nie benut word nie. Overberg Agri het in 2011 geen dividend van Pioneer ontvang nie, ‘n dividend van R21 miljoen in 2010 en R16 miljoen in 2009.
“Pioneer het ons groeipotensiaal gegee en ons het daardie doelwitte nou bereik. Vir seker kan ons sonder die dividend klaarkom.”
MKB wat voor húl transaksie 11% van die aandele in Pioneer Voedsel besit het, het 5 780 529 van hul aandele aan Allan Gray verkoop. Volgens mnr. Eugene Koekemoer, besturende direkteur, het die Graanboere Groep die inkomste uit die transaksie gebruik om ‘n spesiale dividend van R7,50 per aandeel verklaar aan GBG-aandeelhouers wat aan die einde van Februarie nog op die aandeelhouersregister was. Die aandele is verkoop om waarde vir aandeelhouers te ontsluit en belastingbesparings wat op 29 Februarie ten einde geloop het, te benut.
9 Maart 2012