
Giftige mynwater van Thungela Resources se Khwezela-steenkoolmyn op Kromdraai in die distrik eMalahleni (Witbank) het in die Wilgerivier beland toe ’n betonseël van ’n ou mynskag waar besoedelde mynwater opgegaar is, gebreek het. Die skag is in 2019 geseël as deel van die myn se waterbestuurstrategie.
Dit is nog nie seker hoe die betonseël gebreek het nie, maar dit is duidelik dat besoedelde mynwater in die Kromdraaispruit beland en vandaar in die Wilgerivier ingeloop het skaars 58 km van die Olifantsrivier se inloop by Loskopdam. Dit is in hierdie paar kilometer waar die Wilgerivier by die Olifantsrivier aansluit.
Thungela sê luidens ’n verklaring die uitvloei van die ou skag is so gou moontlik gestop en die rivierstelsel is gespoel met water uit die Bronkhorstspruitdam.
Teen die naweek van 25 Februarie kon mens die besoedeling wat sowat 1,7 km in Loskopdam ingestrek het, sê impak uit die lug sien. ’n Aansienlike hoeveelheid vis en ander waterdiere het gevrek. Mpumalanga se toerisme-en-parke-agentskap sê in ’n verklaring die feit dat Loskopdam 100% vol is, help om die impak van die besoedeling te versag. As dit nie daarvoor was nie, was die impak op die dam waarskynlik baie groter.
Visvrektes
Nietemin moes omtrent 3 ton dooie vis tot dusver uit die dam verwyder word. Onder die vrektes is 23 inheemse visspesies geïdentifiseer.
Die agentskap sê ’n span wetenskaplikes monitor die situasie. Daar is steeds ’n gesonde bevolking van vis en ander organismes in die dam.
Agri Limpopo is egter minder optimisties. Me. Deidre Carter, uitvoerende hoof, sê die giftige, besoedelde water wat van die myn af kom, bevat hoë vlakke van radioaktiewe metale en soute. Dit hou ’n gevaar in vir alle vorms van lewe stroomaf.
Agri Limpopo meen dit bedreig die hele Loskop-besproeiingskema, Suid-Afrika se tweede grootste landboubesproeiingskema.
“Benewens die onmiddellike skade sal dit jare duur vir die rivier se neerslagstelsel om ontslae te raak van die metale,” sê die organisasie in ’n verklaring. “In hierdie stadium konsentreer ons bloot op die regstellende stappe wat dringend gedoen moet word. Ons sal later moet praat oor hoe hierdie vernietigende voorval kon plaasvind en wie regstreeks en onregstreeks daarvoor aanspreeklik gehou moet word.”
Die mynmaatskappy het intussen ook ’n verklaring uitgereik waarin mnr. July Ndlovu, uitvoerende hoof, die voorval op 14 Februarie betreur. “Ons is egter bemoedig deur die samewerking van die owerhede, die landbougemeenskap en die publiek wat net so platgeslaan is deur die voorval soos ons. Ons is ’n verantwoordelike mynmaatskappy en handhaaf die hoogste standaarde as dit by ons omgewings-, maatskaplike en bestuursverpligtinge kom.”
Ndlovu het sy onderneming gegee dat die mynmaatskappy die voortou in die regstellende proses sal neem.