“Aan die een kant is ons baie verlig en mens kan nie stry dat dit beslis beter is as die alternatief wat op die tafel was nie, maar in dieselfde asem moet ’n mens sê dat die voorwaardes nie fantasties is nie,” sê mnr. Mark Barnard, groot inmaakvrugteboer en kleinseun van mnr. Jan Barnard, wat Ashton Canning in 1949 begin het.
Dit was een van die voorlopers van L&AF. Die toekoms van dié fabriek, wat duisende mense tydens die vrugteseisoen in diens neem en sowat 250 tot 300 boere se vrugte verwerk, was in die weegskaal ná Tiger Brands vroeg in Junie aangekondig het hy wil die fabriek sluit.
Dit volg ná twee jaar waarin die maatskappy onsuksesvol na ’n koper vir die fabriek gesoek het. Intussen het Tiger Brands ’n ooreenkoms met georganiseerde arbeid, L&AF-werknemers en lede van die Inmaakvrugteprodusentevereniging (IPV) gesluit om die fabriek vir die 2022-’23-seisoen oop te hou.