Altesaam 52 renosters is tot dusver vanjaar al in Suid-Afrika se nasionale parke deur stropers doodgemaak, sê Sanparke.
Luidens ’n verklaring is die Krugerwildtuin en provinsiale parke in Limpopo die hardste getref, met 26 en 13 renosters wat onderskeidelik in dié dele doodgemaak is.
KwaZulu-Natal en Noordwes staan derde en vierde in die ry, met onderskeidelik ses en vier renosters wat binne die eerste ses weke van 2012 in die provinsies doodgemaak is.
Dr. David Mabunda, hoof uitvoerende beampte van Sanparke, sê: “Dit is kommerwekkend dat ons steeds so ’n groot aantal renosters dwarsdeur die land verloor. Die bemoedigendste deel van hierdie hele verhaal is dat die aantal arrestasies toeneem en strawwe swaarder word vir stropers wat skuldig bevind word.”
Dertig stropers gearresteer
Sowat 30 stropers is reeds vanjaar in Suid-Afrika aangekeer. Bewaringagenstkappe en die polisie ervaar ook ’n toename in die publiek se deelname om stropers te probeer aankeer.
Sommige lede van die publiek gee sulke goeie samewerking dat van die stropers al aangekeer is voor hulle die Krugerwildtuin of ander provinsiale parke binnegegaan het.
Daar is wel uitdagings om ’n verdagte met ’n misdaad te verbind, aangesien van die individue wat onder verdenking is gesofistikeerde misdadigers is.
15 Februarie 2012