
Dr. Chad Finn, genetikus by die Amerikaanse landbounavorsingsdiens se navorsingseenheid vir tuinbougewasse in Oregon, het ’n nuwe, reuse swartbessie-kultivar, Columbia Giant, ontwikkel.
Elke bessie is sowat ses sentimeter lank en weeg ongeveer 15 gram. Die kultivar is in samewerking met die Oregon-universiteit se eksperimentele landboustandplaas vrygestel. “Die kultivar is van hoë gehalte, beloof hoë opbrengste en hoef nie met die hand geoes te word nie. Weens die bessie se grootte sal dit meestal by varsproduktemarkte verkoop word,” sê Finn.
Die kultivar sal die jaar na aanplanting ’n klein hoeveelheid vrugte dra, maar sal in die tweede jaar ’n volle opbrengs lewer, sê Finn.
’n Nuwe bloubessie-kultivar, baby Blues, is ook vrygestel. Dié bessie is in samewerking met die Oregon-universiteit en Washington-universiteit se landbounavorsingsentrum ontwikkel. Volgens Finn is dit ’n lewenskragtige, hoë-opbrengs kultivar wat per masjien geoes word.