
Die Amerikaanse departement van landbou het nuwe voorstelle vir vrugte- en groenteregulasies aangekondig wat die uitvoer van verskeie variëteite van vars sitrus, asook sitrus-hibriede, sal toelaat.
Mnr. Eric Wenburg, raadgewer van die Amerikaanse minister van landbou, het dié aankondiging by die jaarkongres van Agbiz buite Somerset-Wes bekend gemaak.
Verliese van miljarde rande staar die plaaslike sitrusbedryf in die gesig as die Europese Unie ’n algehele of ’n gedeeltelike verbod op Suid-Afrikaanse sitrus instel weens swartvlek.
Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het onlangs as deel van sy vooruitskouing tot 2023 uitgewys dat indien ’n algehele verbod ingestel word, die prys van suurlemoene, sagtesitrus, lemoene en pomelo’s met onderskeidelik 29%, 49%, 37% en 38% sal verminder. Sowat 33% van die produkte wat gewoonlik in Europa verkoop word, sal na ander markte herlei moet word.
Suid-Afrika mag tans sitrus vanaf Citrusdal en die Sederberge in die Wes-Kaap, asook die Noord-Kaap, na Amerika uitvoer omdat dié land nie ’n probleem met dié kosmetiese siekte het nie. Die Sitrusprodusente-organisasie het onlangs sy kommer uitgespreek dat uitvoer na Amerika minder winsgewend vir sitrusboere kan raak omdat Amerika elke jaar sy invoervereistes verskerp.
Wenburg het gesê met die nuwe voorgestelde regulasies op die tafel sal sitrusboere hulle uitvoer na Amerika kan verhoog. Suid-Afrika sal aan sekere vereistes moet voldoen om sy sitrus-variëteite met swartvlek na dié land uit te voer.
Belanghebbendes in Amerika het nou 60 dae kans om kommentaar oor hierdie voorstel te lewer.