Die provinsiale regering van Limpopo beur voort met planne vir die Musina Makhado-spesiale ekonomiese sone, al het talle belanghebbendes uit die Vhembe-distrik tydens die omgewingsgoedkeuringsproses duidelik aangetoon hoe skadelik en onvolhoubaar ’n groot nywerheidsontwikkeling noord van die Soutpansberg is.
Die omgewingsimpakstudie het ook gewaarsku teen talle omgewings-, kulturele, gesondheids- en sosiaal-maatskaplike risiko’s. Daarom het boere, gemeenskaps- en bewaringsorganisasies en ander belanghebbendes soos een man tydig teen die omgewingsgoedkeuring geappelleer.
Boonop wys kenners en belanghebbendes wat die ontwikkeling al vir jare teenstaan, op growwe gebreke en nie-voldoening aan die relevante regulasies ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema, Wet 107 van 1998) in die goedkeuringsproses, uit provinsiale én nasionale owerheidsweë.