’n Aansoek om te appelleer teen die bevinding dat “Skiet die boer” haatspraak is, is onderweg, sê die ANC.
Luidens ’n berig op Nuus24.com sê me. Jessie Duarte, woordvoerder vir die party, dit sal onmoontlik wees om die voorwaardes van die bevinding toe te pas.
Regter Colin Lamont het Maandag (12 September 2011) bevind dat die sing van die lied haatspraak is en hy het mnr. Julius Malema, en enige lid van die publiek, verbied om dit in die openbaar of privaatheid te sing.
AfriForum en die TLU SA het Malema voor die Gelyksheidshof gedaag ná hulle in Maart verlede jaar klagtes teen hom gelê het vir die sing van die lied op saamtrekke by die Universiteit van Johannesburg.
Reg vir aksie
AfriForum het Maandag reeds aan Landbou.com aangedui dat hy voorbereid is op enige aksie ten opsigte van die bevinding. “Ons is reg om Malema te laat vervolg as hy die lied weer sing en die hofbevinding ignoreer, maar ons is ook gereed vir appèl teen die bevinding,” aldus mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie.
Die TLU SA het die party en Malema luidens ’n verklaring versoek om die bevinding te aanvaar en te respekteer sodat Suid-Afrikaners in vrede kan saamleef.
Volgens Duarte het die voorbereidings vir die appèlproses Dinsdag (13 September 2011) begin.
Bron: Nuus24.com
14 September 2011