
Die kantoor van die hoofsweep van die ANC het agt wetsontwerpe uitgewys waarop daar indringend gefokus sal word. Daar is huidiglik 24 wetsontwerpe voor die Nasionale Vergadering en 18 voor die Nasionale Raad vir Provinsies. Dit is ’n totaal van 42 wetsontwerpe wat voor die verkiesing deurgevoer moet word.
Die kantoor sê omdat die moontlikheid bestaan dat nie al die wetgewing voltooi sal word nie, is daar besluit om voorkeur aan sekere wetsontwerpe te gee.
Volgens die reëls van die Parlement kan ’n wetsontwerp wat nie in die huidige termyn voltooi word nie, in die nuwe termyn laat herlewe word.
Vals eise
Die portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming het reeds sy landwye openbare verhore oor die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte voltooi en is besig om al die voorstelle te bespreek. Dié wetgewing wil voorsiening maak vir die heropstel van grondeise vir ’n volgende vyf jaar. Indien die wetgewing soos in die huidige vorm deurgevoer word, sal diegene wat nie ’n grondeis teen 31 Desember 1998 ingesit het nie, die geleentheid daarvoor kry. Dit maak dit ook ’n misdaad om vals eise in te stel en dui regulasies aan vir die aanstel van regters vir die Hof van Grondeise.
Die Wysigingswetsontwerp op Arbeidsverhoudinge, wat die Wet op Arbeidsverhoudinge van 1995 wil wysig, geniet ook voorkeur. Dit wil onder meer die bestaande wetgewing in lyn bring met internasionale arbeidstandaarde. Die wetgewing bied ook beskerming teen kwesbare werkers en verseker dat hulle in ordentlike werksomstandighede werk. Die ander ses wetsontwerpe wat ook voorkeur sal geniet, is die een vir doeanebeheer, doeanebelasting, doeane en aksyns, die huur van huise, die een vir taalpraktisyns en die een vir wetgewing rakende wetenskap en tegnologie.
Intussen is die Wetsontwerp vir Eiendomswaardering deur die portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming goedgekeur. Dié wetgewing maak voorsiening vir die stig van 'n grondwaardeerder-generaal.