Die ANC sien kommersiële landbou in ’n ongunstige lig omdat hy glo dat dit die oorsaak is vir hoë bevolkingskonsentrasie en verslegting van grond in voormalige tuislande.
Prof. André Duvenhage, navorsingsdirekteur vir maatskaplike transformasie by die Universiteit van Noordwes, het by die TLU SA se jaarkongres in Pretoria gesê die Regering se siening is in konflik met dié van kommersiële boere.
Die ANC sê sedert 1994 het kommersiële landbou ontwikkel op ’n manier wat gekenmerk word deur groter konsentrasie van eienaarskap en grootte van plase. Dit lei tot onderbenutting van grond, dit is meer kapitaal-intensief en daar is minder werkgeleenthede.
Die ANC sê die landboubedryf bevorder groot kommersiële boerderye ten koste van kleiner boerderye, soos dit in China en Indië bestaan.
Nasionalisering?
Duvenhage sê nasionalisering en beperkte vorme daarvan is tans onder bespreking. “Daar is verdeeldheid binne die ANC oor die beoogde Groenskrif vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, wat eers later vandeesmaand by die nasionale algemene vergadering van die party uitgeklaar sal word.”
Duvenhage sê daar is geen duidelikheid oor wat bedoel word as mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê grond is ’n “nasionale bate” maar dit kan nie gelyk gestel word aan nasionalisering nie. Die beoogde Groenskrif moet veral duidelikheid oor toepassing bring.
8 September 2010