Die ANC wil hê dat ál die plaasaandeleskemas (PAS) in Suid-Afrika deur ’n onafhanklike liggaam van buite die Wes-Kaap ge-oudit moet word.
Dié politieke party se tak in die Witzenberg het die versoek gerig. Die meeste van die skemas is in die Witzenberg gesetel. In die Wes-Kaap is 80 van dié skemas.
Daar is altesame 100 skemas in die land wat vanaf 1996 tot 2009 in werking was. Slegs nege het sedert 1994 dividende verklaar.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het verlede jaar in Kaapstad aangekondig dat die moratorium op die skemas vandeesmaand opgehef sal word. Mnr. Mtobeli Mxotwa, Nkwinti se woordvoerder het aan Landbouweekblad gesê dat die moratorium vandeesmaand opgehef sal word.
Die datum waarop dit sal gebeur, is nog nie bevestig nie.
’n Moratorium is in Mei 2009 ingestel nadat gevind is dat die skemas nie goed bestuur en daar nie genoeg kennis aan die plaaswerkers oorgedra is van hoe ’n plaas bestuur moet word nie. Die ANC-tak het verskeie voorstelle saamgestel wat aan alle belanghebbendes by die Parlement, insluitend Nkwinti en pres. Jacob Zuma, gestuur is.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 21 Januarie 2011.
17 Januarie 2011