
Die “finale beleidsvoorstelle oor die versterking van die relatiewe regte van mense wat die grond bewerk” kom van ’n resolusie wat die ANC by Mangaung geneem het, het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, gesê.
Die beleid stel onder meer voor dat boere 50% van hul grond aan hul plaaswerkers moet gee. Nkwinti het gereageer nadat die ANC-woordvoerder, mnr. Zizi Kodwa, in die media gesê het dat die ANC nie so ’n beleidsposisie het nie.
Dit het laat blyk dat Nkwinti die beleidsvoorstel uit die lug gegryp het. Die voorstel berus op die ANC se resolusies rakende kommunale grondbesit. Hy het aangeraai dat daar gekyk moet word na die ANC se resolusies, spesifiek die tweede punt van afdeling 16 van die grondbesitstelsel wat die kwessie oor mense wat op die plase werk, hanteer.
“Ek verstaan nie hoe hulle (ANC) dit misgekyk het nie. Ek het dus maar besluit om nie daarop in te gaan nie, maar net om te verduidelik soos wat ek nou doen.”
Nkwinti het uitgelig dat die besprekingsfase van die beleidsvoorstel nou aan die gang is en wanneer dit volgende jaar April voltooi is, sal hy ’n verslag hieroor by die ANC se nasionale algemene raad voorlê oor die voorgestelde pad vorentoe.