
TLU SA is bekommerd daaroor dat die ANC die Onteieningswet afstof nadat hy nie daarin kon slaag om artikel 25 van die Grondwet te verandering om onteiening sonder vergoeding daarin te skryf deur die parlament te voer nie.
“Vandag in Suid-Afrika ervaar ons dat die ANC en verskeie ander belanghebbendes soos die EFF en BLF ’n verdraaide en misplaaste weergawe van die geskiedenis begin opdis het asof dit die waarheid is,” sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
“ ’n Nuwe weergawe oor hoe die geskiedenis van grondbesit ontsluit het, vind skielik beslag met geen geloofwaardige brondokumente om dit te staaf nie. Hierdie halwe waarhede en verdraaiings is nou al soveel keer oorvertel dat dit nou al as die waarheid geglo word. Hierdie leuens vorm die grondslag van die aanslag teen grondbesit van die ANC en ander partye.
“Hierdie leuens moet verwerp word met die minagting wat dit verdien, want stilswye impliseer kondonering. Het ons almal nie te lank stilgebly hieroor nie? Ons moet sterker optree om te voorkom dat dit die norm word.”
Hy sê TLU SA stel die volgende twee aksies voor om die impak van die Onteieningswet teë te werk. “Die beskuldigings dat ons die grond gesteel het, is nou al so baie keer gebesig dat dit nou as die waarheid aanvaar word. Dit is egter naamskending om betrokke partye valslik te beskuldig.
“Ons moedig ons ondersteuners aan om telkens wanneer iemand sodanige aantyging maak, ’n formele klag by die polisie te gaan lê vir crimen injuria en versoek dat dit ondersoek word. Iets moet gedoen word om die leuen wat ongehinderd wyd verkondig word, nek om te draai.”
Kommentaar oor die impak van die Onteieningswet kan ook gedeel word op https://www.tlu.co.za/onteieningswet/.