
Die Treasure the Karoo-Aksiegroep sê in 'n nuusverklaring hy is bekommerd oor 'n berig in Business Day dat die ANC sy aandeelhouding in Shell verhoog het.
Die TKAG sê “In 2012 het die nuus gebreek dat die regerende party, die ANC, deur sy beleggingsarm ’n beduidende hoeveelheid aandele in die oliemaatskappy Shell besit en daarom finansieel sal voordeel trek as hy skaliegasontginning toelaat.
“Die ANC se Batho Batho Trust het toe ’n 51%-belang in Thebe Investment Corporation, die plaaslike bemagtigingsvennoot van Shell SA, gehad. Thebe het belange in Shell SA Refining en Shell SA Marketing. Deur Thebe het die Batho Batho Trust in 2012 effektief ’n 12%-belang in Shell SA Refining en ’n 14%-belang in Shell SA Marketing gehad.
Mnr. Jonathan Deal, uitvoerende hoof van die TKAG, het toe gesê: “Die ANC-Regering het homself effektief in die posisie geplaas waar hy die speler én skeidsregter in die wedstryd is. Dit is onaanvaarbaar.”
Volgens ’n berig in Business Day (20 Januarie 2015) het Thebe Investments boonop onlangs sy aandele in Shell SA tot 28% verhoog – ’n aanduiding dat die beleggingsmaatskappy steeds verbind is tot sy vennootskap met Shell.
Dié mees onlangse verhoging van belang kom ná die samesmelting van die besighede van Shell SA Marketing en Shell SA Refining om Shell Downstream SA te vorm. Dié maatskappy is in wese die werksaamhede van Shell SA, aldus die nuusverklaing.
Me. Jeanie le Roux, operasionele bestuurder van die TKAG, sê: “Die onlangse besluit deur die ANC se beleggingsarm om sy aandeelhouding in Shell te verhoog, is kommerwekkend en ook omdat die onvanpaste belangebotsing reeds in 2012 uitgewys is. Ons sou só gedink het ongeag wie die regerende party mag wees. Die tydsberekening van die vorige verhogings, maar spesifiek van die mees onlangse een – skaars maande voordat lisensies vir skaliegasontginning na verwagting toegeken gaan word – is hoogs verdag."
Mnr. Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, stem saam: “Hierdie is ’n absolute miskenning van die beginsels van die Grondwet en van goeie regering. Dit is baie teleurstellend dat die verhogings plaasgevind het gedurende die Regering se ondersoek na hidrobreking en voor die verwagte toekenning van lisensies. As daar enige tekens van korrupsie of wanbestuur is, sal ons dit ontbloot en seker maak die regte mense word aanspreeklik gehou.”